Die wakker wekker

Ek lê op my sy. Probeer slaap. Kyk met een oog na die rooi digitale nommers op die wekker. Dit skyn dof. ‘n Ligkrans vorm om die nommers. Ek lig my lyf versigtig om nie die kat bo op my kop te steur nie. Kyk met twee oё. Dis 1:46. Druk my ander oog toe en kyk weer. Dis duister en die ligkrans flikker soos Kersliggies. Ek trek my oё op nou skrefies. Dis ‘n helder 1:47.


Die huis is stil. Die lug staan stil. Die mure swyg en die gang is donker. Ek rek my ore. Die wind het gaan lê. Seker iewers tussen tienuur en halftwee. Een van die katte gee ‘n snork dat die hele bed ruk. Dis Nellie wat orent kom en strek. Ek vryf haar koppie. Dink sy het gedroom. Wonder waaroor droom katte. Die ander katte lig hulle koppies. Hulle oortjies afgeëts teen die maanlig wat deur ‘n skrefie in die gordyn stroom. Dis baie lig buite. Wonder of dit volmaan is. Sal maar gaan kyk. Help nie om heel nag wakker te lê en wonder nie. Dis 2:01.

Ek staan op. Die katte bly lê. Loer deur die oop skrefie in die gordyn. Ja, die maan is koeëlrond en helder. Druk my linkeroog toe. Die maan is dof en omring in ‘n goddelike ligkrans. Druk my regteroog toe. Die maan is duister en en die ligkrans spring. Dis ‘n mooi aand. Niks beweeg nie. Die bome lyk soos stillewe skilderye. En plante en gras praat nie hardop nie. Selfs die paddas is stil. Hulle dammetjie het opgedroog.

‘n Lig gaan aan in ‘n huis laer af in die straat. Wonder waarom iemand hierdie tyd van die oggend opstaan. Ek slof badkamer toe. Hou my gesig onder die koue kraan. Die water is lou. Loop kombuis toe en drink koue sap. Ek doen alles in die donker. Wil nie wakker word nie.

Ek klim terug in die bed. Die wekker staan op 2:16. Die 6 word ‘n 7. Die katte vervies hulleself en spring af. Ek luister hoe die een in die sandboks krap. Dis Nellie, sy kan tog so aanhou krap. En dis Simba wat water in die bad drink. Hy staan altyd met al vier voete in die water en lek soos ‘n kat wat nooit water kry nie. So dis Dusty wat so kraak-kraak koekies eet. Een vir een kom hulle terug bed toe. Simba klim op teen my arm. Druk sy snoetjie teen my gesig. Sy mond en pote is nat.

Dis ‘n broeiende warm nag. Roerloos stil. Ek hoor myself asemhaal. Luister hoe my hart klop. Dit klop vinnig. My lyf is klam. Draai my kussing om en voel die koeler kant teen my gesig. Mmmm … miskien moet ek die waaier aansit. Dis 2:35 … 2:36. Staan maar op. Sit die waaier op 3. Klim terug in die bed en pof my kussings. Die waaiende lug irriteer die katte. Hulle spring af. Gaan eet nog koekies. Een van hulle gebruik die sandboks. Moet onthou om katsand te koop. Dan staan ek maar op en sit die waaier af. Dis tog net sleg vir my gesondheid. My ma het altyd gesê jy kry koue op jou longe.

Die rooi nommers sê dis 2:45. Ek loop kombuis toe. In die donker. Kyk vinnig of die huis hier onder se ligte nog brand. Nee, dis af. Haal twee ysblokkies uit die vrieskas. Sit een in my mond. Ek en die kat kinders klim saam in die bed. Hulle pur. Klink of hulle hout saag. Ek sit die ander ysblokkie op my maag. Voel hoe dit smelt en teen my lyf afdrup. Draai op my sy en staar na die wekker. Blou liggies sou mooier gewees het, dink ek saggies. Simba maak homself gemaklik op my kop. Hy sug. Dusty draai ‘n paar keer in die rondte en gooi homself in die waai van my bene. Sy lyfie is warm. Nellie trippel om en om die rand van die bed. Ek beduie met die hand dat sy moet ophou. Katte sien goed in die donker. Wil net nie praat nie. Wil nie wakker word nie. Sy sien dit as ‘n uitnodiging om brood op my heup te knie. Dis seer so ek wikkel my lyf sodat sy af kan beweeg. Hulle raak rustig aan die slaap. Iemand snork. Seker Nellie.

Die wakker wekker, Estelle de Wet
Die wakker wekker, Estelle de Wet
My een oog is versonke in die kussing. Die ander oog kyk na die rooi digitale nommers op die wekker. Dis dof, maar die ligkransie is mooi. Al is dit rooi. Ek lig my kop stadig om nie vir Simba te steur nie. Dis 3:06. Hou my ander oog toe. Dis dof. Trek my oё in nou skrefies. Dis ‘n helder 3:07. Ek draai op my ander sy. Voel hoe Simba van my kop afgly. Sien die refleksie van die wekker in die spieël. Dis ‘n dowwe 80:E. Moet tog my oogspiere begin oefen. Hulle sê dis net ‘n spierprobleem wat met die ouderdom kom. Oefening kan dit verbeter.

Ek draai op my rug. Die katte raak vies en gaan lê by die voetenent. Ek beweeg my oё so ver links soos ek kan. Dan regs, so ver soos dit kan. Nou op en af. ‘n Paar keer totdat my oogspiere pyn. As ek nou dit elke aand kan doen, sal my oё met tyd verbeter. Ek kyk in die rigting van die wekker. Sien net swart … steek my hand versigtig uit. Verlig voel ek ‘n katlyfie. Dis Dusty wat tussen my en die wekker staan. Weet dis hy, want sy hare is kort en sy lyfie is slap. Dis 3:35.

Ek lê en dink aan die dag wat verby is. Was vanoggend werk toe. Vanmiddag het ek bietjie huis skoongemaak en wasgoed gewas. Self die badkamerteëls gewas. Toe die ligte nog aan was, het dit mooi geblink. Ook by die winkel gestop. Vars groente nodig gehad om ‘n lekker potjie te maak.

Ek kyk vinnig na die wekker en maak my somme. Het nog so ‘n bietjie meer as twee ure oor om te slaap. Die wekker slaap nooit en netnou is dit weer werk … en later vanmiddag gaan ek pampoenkoekies maak om te vries vir wanneer die kinders kom eet. Pampoenkoekies vries goed. Miskien kan ek see toe stap. Dis nou as die wind nie opkom nie. Hier in die Strand weet mens nooit.

Nou moet ek slaap. Ek forseer my oё toe. In my geestesoog is ek bewus van die waaksame wekker. Dis al vieruur … Ek sien uit na die dag. En na die ete met die kinders. Mmmm … gaan ‘n varknek in bessiesap gaarmaak. Miskien gebraaide aartappels. Ook spinasie in ‘n romerige witsousie. Wonder wat ek vir nagereg kan bedien. Dalk ‘n malvapoeding. Nee, dis te swaar vir hierdie bloedige warm dae. Sal iets anders uitdink. Moet dink aan peuselhappies. Dalk tuisgemaakte lewerpatee met ‘n vars broodjie. Dalk moet ek die nuwe kers wat ek al vir soveel maande bêre, gebruik. Dalk kan ek …

Skril gaan die wekker af. Ek sit regop. Twee oё sê dis 6:00. In rooi. Die katte is bly. Hulle pur. Wil al weer kos hê.

Ek val terug op my rug. Wens vir ‘n oomblik ek was ‘n kat. Sou so graag vir nog net ‘n uurtjie wou slaap. Voel moeg. Ai, wonder hoekom dit vroeër die oggend so maklik was om op te staan. Dis ook tog snaaks hoe tyd vreeslik vinnig loop wanneer ‘n mens slaap. Ek het dan so pas my oё toegemaak. Dis 6:06. Staan maar op. Die son is al op maar ek sit die ligte aan. Wil wakker word.

Nellie staan vol afwagting voor haar speelmuis. Ek buk en tel die muis aan sy lang stert op. Gooi dit hoog in die lug. Sy vang dit perfek. Nou is die vloermatjie heeltemal opgebondel. Trek dit met my voet reg. Simba dink dis ‘n speletjie en duik in. Ek strompel oor die kat-mat bondel en trippel die badkamer binne soos ek my balans herwin. Dusty skuur teen my bene terwyl ek tande borsel. Hy raak ongeduldig en byt speels my kuit. “Eina,” proes ek terwyl mondspoel in my keel afloop. Hy maak sy Sorry Suzie gesig.

Gou eers vir hulle kos gee en sommer die ketel aansit. ‘n Lekker koppie Chai-tee is al wat ek nodig het. En daar is niks wat ‘n skuimbad nie kan regmaak nie. Sien uit na die dag. Moet net onthou om op pad werk toe petrol in die kar te gooi. En hulle moet die wiele oppomp. Moet ook die katsand onthou.

Die wekker sê dis 7:40. Ek moet ry. Sal seker so tweeuur wees as ek terug kom. Ek sê baai vir die harige kinders. Belowe hulle ek is nou-nou terug. Hulle lê bene oopgevlek op die mat in die hittige oggendson wat deur die venster skyn. Ai. Hulle slaap diep. Salig onbewus van my vertrek. Nellie snork.

Kyk vir oulaas na die wekker. Vol energie sal sy getrou deur die dag draf. Dis nou as daar nie kragonderbrekings is nie. Dan sal sy op een of ander lawwe tyd staan en flikkers gooi wanneer ek tuis kom.

Ek ry seelangs werk toe. Die bleek silhoeët van die maan hang nog oor die blou watermassa. Die son en die maan saam in die lug. Wolf en Jakkals trou, besluit ek met ‘n glimlag.
Moet net onthou om pos uit te haal voor ek huis toe kom. Ek wag vir die telefoonrekening. En ek moet dink aan ‘n lekker nagereg vir wanneer die kinders kom eet.

Sal later daaraan dink. Gaan juis vanaand lekker vroeg inkruip … hoop nie die wind kom op nie. Mens kan nie dink as die wind so vreeslik waai nie. En Dusty raak bang, dan kruip hy weg in die sakkies laai … Dis moeilik om te slaap sonder al my katkussings.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. ken daardie wil slaap aksie baie goed so ook die rondrol en horlosie dophou

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar