Duike

“Jou lewe bestaan uit vlietende oomblikke,” sê sy altyd. Ek het al gegrap dat ek dié woorde op haar grafsteen gaan skryf. Maar vanaand voeg sy peinsend by “Soms is dit asof sommige oomblikke verlig is, in kolle, want sekere dinge maak duike, amper soos jou vinger op ‘n leё koeldrank blikkie.”


Sy skuifel haarself gemaklik op ‘n groot stoel, bene onder haar ingevou. Haar vingers vroetel in die hare van die kat op die leuning. “Jy kan met jou kolle maak wat jy wil,” verklaar sy selfversekerd. “Hier’s nie reëls nie. Reëls soos jy moet jou bord kos opeet al is jy nie honger nie en moenie met nat hare gaan slaap nie, want jou neus sal muf … en moenie op jou rug lê en eet nie, want jy kry horings.” Soos die onthou uitborrel, is sy al op die punt van haar stoel en die kat se stert kap links en regs, maar haar lyf bly sit, terwyl haar kop die loop neem.

“Ek onthou soos gister wanneer ek en my sussie, gedwonge na die Sondagmaal, rustig in ons slaapkamer moes verkeer. Ons het aspris op ons rug gelê en lekkers eet, mekaar se voorkop bly voel, gewag vir die knop waar die horings hulle verskyning sou maak. Gewonder hoe lank en skerp hulle sou wees,” lag sy terwyl sy haar kop heen en weer skud. “Jy verstik nogal lelik as ‘n gladde, ronde lekker by jou keel afglip!”

Terwyl sy vir ons ‘n glasie wyn skink, babbel sy voort. “Ek onthou brokkies, helder kolle, wonderlike oomblikke van gelukkig kind wees. Ys? Al om en om die huis op my driewiel. Vinnig onder die wingerd deur, want soms was daar sulke groen, deurskynende ruspes met gesigte wat iemand verseker opgeverf het. En hulle het horings, seker omdat hulle so onderste-bo hang en eet. Dan stadig en ‘n stop by die swaai onder die appelkoosboom. Loutere plesier van hoog swaai en soet appelkosies, nat, want my pa loop met die tuinslang.”

“Dan was daar die groot rooi stoep. My ma het dit getrou élke Vrydag gepolitoer. Daar kon ek huisie-huisie speel, my droomhuis bou met ‘n goeie man en baie kinders. Met salige onbewustheid vir hulle aan die slaap neurie met … gooi hom in die sloot, trap op sy kop, dan is hy dood.” Sy frons en vat ‘n slukkie wyn. “Daar was dit veilig, want die stoep was glad. Boewe sou gly, maar kabouters loop lig en feetjies vlieg.”

Ek hou haar dop waar sy nou doodstil sit en herlaai. Dan onthou sy saggies en snuif met haar neus in die lug. “O die geur van dennebolle wat oopskiet op ‘n knetterende braaivleis vuur. Ai en my ma se stem op die deuntjie van moenie by my kom huil as jy jou vingers raak kap nie, ‘n doelgerigte soektog na net die regte klip om die pitte mee oop te spat. En vir ‘n tydjie was dit net ek en die warm neutjies op my tong.”

Sy staan doelgerig op. Die kat vervies homself en spring af. Sy steek nog ‘n wierook-stokkie aan. Die geur van sederhout hang swaar in die lug. Asof bedwelmd vertel sy ingedagte van strande met eindelose hoё, wit heuwels en lam bene van oor en oor opklouter en die totale lekkerkry van woerts afgly. En van die see. “Maar dit was altyd koud. My lippe en die bloublasies wat seer my bene gryp was dieselfde kleur,” lag sy. “Ek ruik nou nog die bamboes, glad en slymerig en tussen-in die fonds van skulpies, sommige wonderbaarlik ongedeerd.”

lank gelede“Onthou jy nog daai singende roomyskarretjies, mens kon dit mos vir myle ver hoor aankom?” Ek knik, maar kry nie ‘n beurt om ‘n pennie in die beursie te gooi nie. “O ek onthou sagte roomys wat drup, want dis warm en die wind waai en jou al vinniger en vinniger maak lek en Pappa wat skel, want ons mors in die kar en ons voete is nog vol seesand. Snaaks hoe seesand die manier het om aan jou vas te klou totdat jy in die kar klim, né?”

Sy trek haar oё op nou skrefies. ”Dan was daar was my slaapkamer. Die gepatroonde stokstyf gordyne, horisontaal gewaai deur die Kaapse wind en die vreesaanjaende skaduwees van die groot Eikeboom se takke teen die muur. My ma het vas geglo in vars lug, maar sy het alles reggemaak met ‘n warmsakkie in my bed,” sệ sy liefdevol.

“Weet jy, my skoentjies moes op ‘n spesifieke teёl staan. Dig bymekaar sonder om aan die omlyning te raak. Wat noem die sielkundiges dit nou weer, obsessief-kompulsief, moes heeltyd lysies en rympies maak, maar nou ja,” sug sy. “As die een skoen weg was, was albei skoene hartseer. Ek onthou vet trane vir die huilende bokkie op die ‘stop veldvure’-padteken. Vir Wolf as Jakkals hom kul in die Wolf en Jakkals stories. Ek kon Rudolf se pyn voel toe niemand met hom wou maatjies wees nie oor sy rooi neus.”

Onverwags kyk sy my vol in die oё, asof sy my volle aandag verg. “Soms was al die wroeginge te veel vir ‘n klein dogtertjie lyf.” Stil staar sy vir ‘n rukkie voor haar uit. “Dan het ek myself gedwing om met omlynde oortuiging aan mooi kolle in my lewe te dink: Aan die paashasie met blinkpapier eiers en sy modderspoortjies wat op die teëls agterbly. Aan die tandmuis met sy kloutjies vol kleingeld. Aan Kersvader wat by die skoorsteen afgly na ‘n kersboom met flitsende liggies. Aan fyn, wit feetjies en ander was skreeuend bont.” Sy gooi haar arms in die lug. “En dan kon ek sien, Liewe Jesus, gevleueld op ‘n wit watte wolk!”

“Ek het daai oefening oor die jare vervolmaak,” glimlag sy tevrede. “Dis hoe ék cope.” “Cope met wat?” vra ek dom. Sy antwoord nie.

Fluks staan sy op en begin houtjies op die vuur pak. Sy kry dit aangesteek met vuurhoutjies wat aanmekaar breek en die kat wat om haar bene krul. “Ons moet ietsie eet,” mompel sy. “Ek gooi sommer aartappels en uie in die vuur en daar’s lekker lam tjoppies.”

Langs die vuur, my oё vasgevang in die geel-oranje vlamme, staan en tob ek oor haar woorde vroeër die aand: “Jy kan met jou kolle maak wat jy wil, hier is geen reёls nie …”

“Dankie,” sệ ek. “Waarvoor?” vra sy dom. Ek antwoord nie.

Dis al laat in die aand, maar skielik maak tyd nie meer saak nie. Tussen die vlamme en die wierook en die wyn luister sy na my onthou van vroegoggend laagwater tussen die rotse by die see en die reuk van arikreukels wat kook in ‘n blikkie seewater. Van die wonder van eindelose velde van kleurvolle Weskus blomme. “Hoekom glimlag jy so?” vra sy. “Want ek hoor my ma se stem wat sê ek moenie op die blomme trap nie, want hulle kry seer … Ek onthou vlak riviere met helder bruin water en ronde klippe. Kon vir ure lank daar rondspring! En die son was swakker, want ons het nooit gebrand nie, né?” Sy knik saamstemmend. “Weet jy, ek was al nege toe wit sjokolade vir die eerste keer op die rakke verskyn het. Dit was vir my só mooi en spesiaal toe my beste maatjie vir my vier blokkies skool toe gebring het …” Ja, ek het aanhou babbel, selfs toe my bord kos voor my neergesit word en ek kyk hoe die klont botter op my warm aartappel saam met my donker kolle wegsmelt.

Vurk in die hand staan sy op om ander musiek aan te sit. Half ingedagte draai sy om. ”Jy mag ook maar met nat hare gaan slaap, jou neus sal nie muf nie.” “Mag so wees,” glimlag ek. “Maar vanaand sal ek my bord kos opeet.”

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

  1. Ryk en vol herineringe. Dit is so waar, die prentjie van ‘kolle van kleur’ in die lewe

  2. Alles word so intense ervaar
    Dit herinner mens om aan al die goeie oomblikke te dink.

Lewer kommentaar

Leave a Reply