Ek het destyds skoon vergeet om jou te sê. My kop was seker maar sif. Vol gate. Filtrerende bloedvaatjies. En my oë was wasig. Mens dink mos nie helder as jy nie kan sien nie. Ek was ook ontsteld toe ek in die spieël kyk. Lang stukke van my hare was weg. Maar ek het dit later in die bed gevind. En my voorkop en slape was diep pers. Amper soos die blomme wat ek later die middag van jou gekry het. Ek glo darem ek het onthou om dankie te sê.
So laat my asseblief toe om jou sommer nou te vertel. Al die onbenullige goedjies wat ek jou die vorige aand sou vertel het. Jou groen hemp wat jy vir die volgende dag gesoek het, was netjies gestryk en in jou kas. Daar was ‘n bak van jou gunsteling frikkadelle in die lou oond. Die kinders en die hond en die katte het reeds geëet. O ja, ek het toe die telefoonrekening mooi op tyd betaal. En ai man, die onderste toilet het begin lek. Maar ek het die pyp met gom gesmeer en skoon opgemop. Ek onthou ek het sleg gevoel, want die koffie was op. Maar ek het vir jou varsgebakte beskuit gelos om te doop in ‘n glas warm melk. Ek sou seker êrens genoem het dat ‘n koue front op pad was. Iewers sou ek verseker gekla het dat dit koud was. Ek wou jou ook nog vertel het dat die dag lank was sonder jou.
Jy sal nie onthou nie, maar die aand se gewag na jou het weereens gefaal. Ek het later maar gaan inkruip. En ek voel skaam om te erken dat ek iewers in my agterkop gewens het die cops vang jou. Het gekonkel dat dit dalk ‘n einde aan jou manewales sou bring.
Iewers in die nag het ek wakker geskrik. In nabetragting was dit dalk van die harde neerslae. Dalk was dit die lang, harde miaau van Ny Ming wat met die broeiende donderslae onder die bed ingesluip het. Op daai oomblik het ek
angstig gehoop dis jy. Ek wou nie rêrig hê die cops moes jou vang nie.
Maar die son het al amper begin opkom toe jou beskermengel jou huis toe gebring het. Ek onthou net voor jy gekom het, was alles om my nog so helder. Die lug het intens vars geruik. Na nat, groen gras. Ou Webster, salig doof, het
by die voetenent gesnork. Dit was eers toe Ny Ming weer met ‘n angstige miaau onder die bed inskarrel, dat ek jou gevaarlik die gang na ons slaapkamer hoor afstrompel het. My play dead toertjie was instinktief. Maar toe nies ek …
Ek ken jou goed. Jy wonder nog steeds waar my kop dan was: Dit was by jou waar dit altyd was. Vir jou was ek vreeslik lief. Soos amperryp druiwe vir die son en mielies vir reën. Soos karremme vir die gladde nat pad. Soos sand vir ‘n slaaikop en vuur vir wind. Soos sjokoladesous vir roomys. Presies nes kopseer vir wyndrink in die son.
Nes vinkel is vir koljander. Die een gevoel was nes die ander. ‘n Raserige samesmelting van goed en sleg, genot en pyn. Van liefde en afkeur. Van opbou en afbreek. Van vasklou en loslaat …
Maar laat my asseblief toe om sommer nou klaar te gesels. Voor ek weer vergeet. Want soms raak my kop nog sif. Wollerig. Dis vol toegeplakte gate. Jeukende rofies op plekke waar ek nie kan krap nie.
Jy moet asseblief ophou met jou denkbeeldige projeksies. Jou ongegronde gerugte waarmee jy mense se koppe besoedel. Dat ek jou na 20 jaar se getroude lewe net so gelos het. Dat ek jou verloën het. Dis die bodem van die whiskey bottel wat hierdie leuens kwytraak. Hou op lieg. Soos Aggie in 7de Laan sou sê, “jy gaan nooit in die Hemel kom nie.”
Jy laat my dink aan die stormagtige Suidooster. Ongenaakbaar, propvol gelaai. Jy het altyd oral oor gewaai. Jou saadjies oral rond gesaai …
Soms bring die wind ‘n onaangename geur. Om een of ander psigiese rede stel jy my nog steeds so verskriklik teleur.


Heartrending…