Verna Vels, skepper van Liewe Heksie en baanbreker in die radio- en televisiebedryf, is gisteraand in haar slaap oorlede in die ouderdom van 81 jaar.
Vels is verlede maand in die Morningside MediClinic behandel nadat haar borskanker na haar brein versprei het. Sy is in Januarie gediagnoseer met inflammatoriese borskanker.
Verna Vels was ook die stem van Bennie Boekwurm op die TV-program Wielie Walie en ’n toesighoudende vervaardiger van die TV-sepie 7de Laan. Sy was die eerste vrou wat by die SAUK as programdirekteur aangestel is.
Almal in Blommeland is in rou, selfs die Gifappeltjies is stil.
