Die bekende Afrikaanse skrywer van meer as 130 romans, speur-, avontuur- en geestelike boeke, Ena Murray, het onlangs ’n direkte uitdaging aan alle ander skrywers en ander letterkundige belanghebbendes gerig om, soos sy, ’n finansiële bydrae ter ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein te doen. Sy het summier die woord by die daad gevoeg en ’n bedrag van R10 000,00 in die rekening van die Erfenisstigting, vir aanwending te NALN, inbetaal.
NALN gaan die afgelope aantal jare agv verskeie faktore deur baie diep waters. Dit het ’n baie negatiewe effek op die eens trotse instelling gehad, soveel só dat dit nodig was om vroeër vanjaar ’n reddingsplan onder leiding van die Erfenisstigting te NALN te loods. Daar word voorts met die betrokke owerhede onderhandel om NALN onder provinsiale beheer uit te neem en dit op nasionale vlak te plaas en te befonds.
Die Erfenisstigting was die outeurs van die reddingsplan en het ’n bedrag van R3 miljoen vir die implementering daarvan vanuit die privaatsektor ingesamel. Daarbenewens is die Erfenisstigting deur die Vrystaatse owerhede as diensverskaffer aangestel, om ook die implementering van die reddingsplan te hanteer.
Daar is reeds ver gevorder wat dit betref en die situasie te NALN het sedert begin Mei 2010 amper onherkenbaar verbeter. ’n Groot skoonmaak- en uitsorteringsaksie is geloods, daar is ontslae geraak van oortollige en ondiensbare meubels en –toerusting, ultravioletbeskerming is voor alle eksterne vensters aangebring, NALN se hele IT-opset is vernuwe en opgegradeer en daar is reeds heelwat nuwe staalrakke geïnstalleer, terwyl nog meer daarvan op bestelling is.
Daar sal ook binnekort oorgegaan word tot die aanstelling van ‘n aantal deeltydse vakkundiges om te help met die uitpak, aanwins en ontsluiting van talle bronne, waarvan baie die afgelope paar jaar in kartondose geberg moes word terwyl die NALN-gebou gerestoureer is.
Daar sal ook binnekort oorgegaan word tot die heraktivering van die Vriende van NALN, wat nou reeds vir ’n hele aantal jare onaktief geword het. Ena Murray se mildelike bydrae is reeds met die oog hierop gedoen, omdat sy baie sterk voel oor die beginsel dat almal wie se werke reeds of moontlik vorentoe baat kan vind by die opgegradeerde fasiliteite van NALN, ook daadwerklik daarby betrokke moet raak. Dit sluit natuulik ook navorsers is, wat voortaan die voordeel sal hê van baie makliker en vinniger toegang en beter diens.
NALN is ’n omvattende Afrikaanse letterkundige museum en navorsing-sentrum. Dit maak derhalwe nie net voorsiening vir prosa en poësie nie, maar ook vir musiek en drama en ander verwante kunsvorme regoor die hele letterkundige spektrum. Ena het egter nog verder gegaan en ook die uitgewers en drukkers van sulke werke uitgedaag om by haar aan te sluit en hul hand in die sak te steek.
Weldoeners kan skenkings in die rekening van die Erfenisstigting, vir aanwending te NALN, inbetaal by ABSA Brooklyn, takkode 632005, rekeningnommer 4056 209 535. Geliewe ’n afskrif van die inbetalingsbewys, met aanduiding dat dit vir NALN is, te faks aan 086 615 9587.
