Met al die regse predikers in Amerika wat deesdae links en regs goeters verbrand is dit dalk ’n goeie idee vir James Frey om weg te kruip.
Die skrywer se tweede boek, The Final Testament of the Holy Bible, het vandag verskyn. Dit handel oor die tweede wederkoms van Christus.
Die boek se Jesus is ’n dwelmgebruiker wat aborsies goedpraat, biseksueel is en ’n prostituut swanger maak. Die woord wat dié Jesus versprei stel dit duidelik: daar is geen ewige lewe nie, net liefde.
Enigiemand in die Amerika wat die boek wil verbrand sal rede hê op twee keer daaroor te dink. Terwyl die boek in Europa deur uitgewers versprei word staan Frey self aan die hoof van verkope in Noord-Amerika en gaan lesers $50 (±R337) per kopie moet opdok.
Nie dat dié man wegskram van polemiek nie. James Frey beskou konflik as ’n integrale deel van sy lewe en hy het reeds sterstatus sedert sy omstrede A Million Little Pieces.
Ongelukkig lyk die eerste literêre resensies nie goed nie en ek raai hy gaan nie weer op Oprah verskyn nie. Ten spyte hiervan sal histeriese fundamentaliste waarskynlik sorg dat Frey die hele pad bank toe lag.

