Dis vroeg een Maandagoggend en almal skarrel om klaar te maak vir skool en werk. Esmaralda neem haar tyd soos gewoonlik en Elsa, haar moeder steur haar nie veel daaraan toe sy iets murmureer oor haar katjie nie. Maar Esmaralda is vasberade om iemand se aandag te kry en wend haar tot Ben, haar vader wat besig is om sy dasknoop reg te skuif. Ben sien die trane opwel in sy dogter se oë en sak tot op sy hurke om haar klagte aan te hoor.
“My katjie sit bo in die boom en huil, want hy kan nie self afklim nie” Op daardie stadium kan Ben duidelik die protesterende miaau vanuit die boom hoor.
“Esmaralda, ons gaan almal laat wees as ek nou eers vir Kieter uit die boom moet red, hy sal self afkom as hy honger word.” Maar Ben moes van beter geweet het as om haar te probeer oortuig want sy is reeds op pad buitetoe en troos vir Kieter van onder die boom. Ben het geen ander keuse as om die tamaaie doringboom aan te durf nie. Met skaars hoorbare kragwoorde en ‘n uitmergelende tog na die top van die boom, bereik hy uiteindelik vir Kieter wat nou eers appelleer. Versigtig neem hy die katjie en druk hom voor by sy hemp in en durf weer die tog ondertoe aan, waar Esmaralda breed staan en glimlag en haar trane afdroog.
Kieter word oorhandig en Esmaralda bedank hom met ’n soentjie en ’n drukkie, maar sy merk nie die geskeurde uniform, doring wat nog in bles vassteek en bebloede krapmerke op pa se arms nie, want sy neem vir Kieter kombuis toe om daar vir hom sy kos en melk te gee. Ben beweeg kopskuddend en met ’n glimlag kamer toe om nuut te gaan verklee. Elsa lag hardop toe sy luister na sy ondervinding en sy wonde liefderyk versorg. Almal is einde laaste gereed en beweeg na die motor om die daaglikse take aan te pak en Elsa roep na Esmaralda om te kom sodat hulle haar by die skool kan aflaai. Met haar tas in die motor en haar veiligheidsgordel vas, hoor Elsa en Ben haar die volgende woorde uiter : “arme, arme katjie”.
Wat sal mens nie alles vir jou kinders doen nie.