Kreatiewe rugby

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Noudat Wêreldbekerkoors ´n groot deel van die bevolking beetgepak het en daar heelwat aspirant-Bobbytjies en -Breytontjies op die rugbyvelde rondhardloop en voor die televisie vasgenael sit, is die tyd net reg vir ´n nuwe rugbyboek. En dis nie jou gewone heldeverering en spierontwikkelingboek nie – die rugbyheld Naas Botha en die internasionaal-erkende kreatiwiteitskenner Kobus Neethling se boek se subtitel is: Moenie net sweet nie, dink ook! En as jy wonder oor terme soos emosionele sportintelligensie, is dit net die boek vir jou.

Heineke Meyer, hulpafrigter van die Springbokspan, sê op die stofomslag van die boek: “Die tyd is verby dat ons net die liggaam kan afrig. In die 21ste eeu sal sukses op die rugbyveld afhang van hoe ons die brein en die ligaam in afrigting gaan integreer.”

Kreatiewe rugby belowe:
´n Kwantumsprong in die ontwikkeling van rugby in die 21ste eeu,
Die skep van ´n kreatiewe spelwyse wat onvoorspelbaar en opwindend bly,
Afrigting van die brein in samehang met die verbetering van liggaamlike en spelvaardighede,
Die ontwikkeling van spelers se kreatiwiteit, asook inligting oor die spesifieke breinvoorkeure wat die onderskeie posisies vereis,
´n Verduideliking van die beginsles van heelbreindenke en breinvoorkeure, en

Inligting oor hoe om jou eie rugby-breinprofiel te verstaan. Van die spesialis-medewerkers aan die boek is Uli Schmidt, voormalige Springbokspeler en Hennie Kriel, afrigter van Olimpiese atlete. Naas Botha word wêreldwyd as een van die vyf beste rugbyspelers van alle tye gereken. Hy is tans rugby-aanbieder op TV en rubriekskrywer, en is bekend vir sy kreatiewe insig in rugby. Dr Kobus Neethling het onlangs die Distinguished Leader-toekenning ontvang. Hy is ook die breinafrigter van provinsiale rugbyspanne en Olimpiese atlete.

Kreatiewe rugby word uitgegee deur Carpe Diem Boeke. Dit is ook in Engels beskikbaar as Creative Rugby.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply