Daar is baie selfhelp boeke oor die emosionele kwessie van seksuele molestering in Engels beskikbaar. Danksy Struik Christelike Boeke en Yvonne Retief is daar nou ook een in Afrikaans wat die duisende slagoffers van hierdie verskuilde misdaad kan help om weer te lag oor die dag wat kom.
Geskikte terapeute is dikwels net in stede beskikbaar. Dit gebeur ook dat slagoffers se seer so erg is, dat hulle net nie die moed het om iets aan die saak te doen nie – met die gevolg dat hulle dikwels hulle lewe lank loop met die pyn wat hulle funksionering as mens kortwiek.
Lag weer oor die dag wat kom poog om, met ´n spesifieke tegniek wat die skrywer oor ´n aantal jare ontiwkkel het, slagoffers op die pad na genesing te plaas. Die boek is geskryf in die vrom van ´n aantal briewe aan ´n denkbeeldige vrou wat as jong kind deur haar oupa gemolesteer is. In die laaste tien briewe word daar na die seksuele heelwordingsproses gekyk.
Yvonne Retief is die afgelope 17 jaar verbonde aan FAMSA en werk intensief met volwassenes wat as kinders gemolesteer is. Die boek is ook gerig op terapeute wat hulle vaardighede in dié rigting wil ontwikkel.

