Napoli, Casa Bernini, anno domini 1599
Modder
Die kind was nog in doeke. Die diensmeisie wat hom moes oppas, het gedink hy sit onder die kombuistafel en knaag aan ’n korsie terwyl sy vuil linne uitsorteer. Die onderste helfte van die kombuisdeur was toe. Maar toe bring die bakker se handlanger ’n mandjie met brode vir die groot gesin – vyf ouer susters het hierdie knapie voorafgegaan – en laat die deur oophang terwyl hy te midde van die mengelende geure van vars gekapte uie en knoffel en die nog stomende brode ’n vinnige soen met ’n vroetelvat waag en dit met giggelende protestasies ontvang word.
Oop deur! Die kind los die korsie net daar en kruip doelgerig uit die klam en warm halfdonkerte uit na die streep lig wat hom roep. Woorde het hy nog nie, maar hy ruik en hoor en sien ’n wonderlike wêreld. Hy kruip-val oor die breë, vlak kliptrappe na buite. Growwe klip en dan sand onder sy sagte knieë en handjies. Dit keer hom nie, hy steun net effens. Oe! A! Ruik anders. Lyk anders. Voel anders. Mmmmmm. Voel lekker. Nat. Mmmm. Die uitgetrapte holte voor die hoenderhok is omskep in modder deur die onlangse reën. Hy kruip reguit daarnatoe, plas daarin met sy handjies. Wat dit is, weet hy nie, maar dis njam! Njam, njam! Hy kruip verder en gaan sit in die middel van die nat bruin lekkerte.
Skop met sy voete dat die bruin sop spat. Grawe met sy vingers diep in die ploetergoed, tel handevol op, prop dit in sy mond, smeer sy gesig daarmee, grawe nog, druk vet handevol sodat dit tussen sy vingers uitpeul, lag uitbundig.
Bakker se handlanger, leë mandjie in die hand en kouend aan ’n presentappel, kom met haastige stewels by die trappe af. Hy steek vas.
“Anna! Anna! Kom kyk wat maak die kind!”
“Kind? Wat? Waar?”
Nog haastige voete.
“Maar my aarde, kind! Kyk hoe lyk jy!”
Njam-njam. Hy gryp nog, en nóg, van die heerlikheid.
Bakker se handlanger lag.
“Wat sal die signora sê! O, help my, sint Niklaas, sy gaan my lewend afslag!”
“Kom ons sit hom sommer in die klere se spoelbak!”
Skielik vat hande hard onder die kind se oksels en tel hom uit sy speelplek op. Hy huil en skree en skop van woede. Verwilderde hoenders flap en fladder en skree. Kêkeke-kêkeke-kêkeke-kêêêk! Selfs die vet ou werfhond blaf.
“Spoelbak toe met jou!”
Hy woerts deur die lug en plons tot by sy middel in koue water. Sy woedende gille word kortgeknip soos hy na sy asem hyg. Oe! A! Hier is dit ook lekker! Hy skop en spartel en slaan met sy vet handjies in die heerlikheid waarin hy nou sit. Een paar hande hou hom styf vas. ’n Ander paar skurwe hande trek hom kaal uit, sommerso in die water, en spoel sy gesig skoon van die modder wat om sy mond gekoek het.
Hy spoeg en lag.
“Jy laat hom nie los nie!”
“Ek het hom!”
“Nou sal ek moet skoon water aandra vir die spoelbak, dis bruin van die sand. Wat het jou tog besiel, kind!”
“Seunskinders hou van modder.” Bakker se handlanger se stem.
“En van water? Gewoonlik nie.”
“Hierdie een wel, ja!”
Hy skop en plas met sy handjies. Die hele wêreld om hom skitterblink. Die diensmeisie skep handevol water en bedruip sy kop daarmee. Sy oë kyk deur ’n mistigheid na splinters helder kleure. Hy klap hard op die water. Nog splinters kleure vlieg om hom op. Hy lag en lag en skop.
“Kan nie heeldag hier sit nie! Uit met jou nou!”
Weer word hy woerts uitgelig uit die saligheid. Weer wil hy gil van woede, maar die diensmeisie vat hom en rol hom toe in haar voorskoot en hardloop met hom die huis in terwyl sy agter in sy nek blaas en kielie, en nou doen sy dit oral op sy magie, want hy lê nou op die kombuistafel en sy vryf hom goed droog met ’n growwe doek totdat hy gloei en dit kielie dit kielie en sy blaas met haar warm asem pffrrt hier en pffrrt daar en dis lekker en hy gryp haar hare met albei handjies vas en hy skop en hy skreeu soos hy lag.
Napoli, Casa Bernini, anno domini 1605
Jy sal hierdie humeur moet leer beteuel
Angelica Bernini is ontevrede dat haar man die kind wil saamneem, weg van sy skryfles onder die sorg van die jong Jesuïet wat die Bernini-kinders kom geletterd kry. Sy verstaan dat Pietro so opgaan in sy seun, ’n seun wat ná vyf teleurstellende dogters uiteindelik gebore is. ’n Seun, daarby gesê, presies na sy pa se hart, want hy sit van kleins af vasgenael in sy pa se werkswinkel, heeltemal gefassineer deur die daaglikse wonderwerke wat hy daar sien gebeur.
Sy kan verstaan dat daar bekoring sit in die werk wat haar man doen, uit die kind se oogpunt. Hy sien daar kom marmerblokke aan, deur die strate van Napels gesleep op kreunende waens, en hy sien hoedat die slim hande en vlytige vingers van sy pa en dié se helpers uit die rou klip alles denkbaar optower: mense en engele, heiliges en helde, strydwaens met perde, dierasies met skubbe, kloue en vlerke – so yslik soos reuse en so klein soos insekte – en bome en blare en blomme en skulpe … Ja, sy pa skep die wêreld, dit moet vir die kind magies lyk, sy verstaan dit.
“Ag toe, hy stel tog so belang,” sê Pietro. “Onthou jy, die jaar toe hy uit lang rokke bevry is en darem ’n styfstaande broek soos ’n mansmens kon dra, tóé al, al was hy maar vier, het hy begin bystaan en gereedskap aangee. En eers moes ’n mens vrá vir wat jy nodig gekry het, maar baie gou het hy vanself gesien wat jy kort en dan gee hy die regte ding aan. Hierdie kind —”
“Ja, ek weet,” sê Angelica. “Maar die kind moet darem ook leer lees en skryf. Hy’s al ses, dis hoog tyd. Dit gaan swaar met ’n mens wat nie sy letters ken nie.”
Sy kyk hom skerp aan en hy sug. Hulle is dit eens dat hulle kinders beter opgevoed moet word as wat hulle self was. Angelica, getroud toe sy twaalf jaar oud was, weet hoe dit voel om nie eens self ’n brief te kan skryf nie maar ’n brieweskrywer te moet betaal, en Pietro, die seun van ’n skoenmaker, is nie wat jy ’n geleerde man kan noem nie.
“Jy hou hom te veel besig in die werkswinkel,” sê sy. “Hy sal baie eerder teken as leer skryf.”
“Maar hy’s so gelukkig daar. En hy teken al goed, dit kan altyd beter, maar regtig …”
“Skryf,” beklemtoon sy, “’n opgevoede mens moet kan skryf. En lees.
Lees en skryf. Dis nie ’n meisiekind vir wie dit minder saak maak nie, dis die familie se naamdraer, en Meester sê hy is slim.”
“Net nog hierdie een keer,” pleit hy. “Ek wil vir hom die Fontana de Gigante gaan wys, daar was ’n verstopping wat glo reggemaak is en ek wil gaan seker maak dat dit nou behoorlik spuit.”
“Die strate van Napels is g’n plek vir ’n sesjarige kind nie.”
“Ek sal hom styf by my hou. Ek sal mooi na hom kyk.”
Gianlorenzo se oë pleit saam, al sê hy niks. Hy weet hy is sy ma se liefste; die mense sê hy trek sterk na haar – kyk net, hy’t sy ma se mooi bruin oë, beduie hulle, hy’t dieselfde donker krulhare, en net so ’n oulike kuiltjie in sy ken! Sy gaan nie nee sê nie, dink hy.
