Muisie

Wielie wielie walie hier lê ek op my alie. Die bure gooi vullis doer onder in hulle tuin. ‘n Smeulende, stink kompos gat. Om hulle afval te laat herleef. Dis hulle skamele poging om die Aarde te red … moenie so naby my staan nie. Die reuk van verrotte gissende whiskey blaas in my nek …

A mouse, James Sowerby
A mouse, James Sowerby
Wielie wielie walie nou sit ek op my alie. Ek hoor daar broei muise op hulle rommelhoop. Hulle skommel in skietende strepe deur die tuin. Vermenigvuldig in die hitte en afvalkos. Stroom in tussen die struike, kruip onder die klippe … moenie so bo oor my staan nie. Jou geskel loop in druppels oor my gesig, wriemel deur my hare …

Wielie wielie walie ek spring op van my alie. Trots vang my kat ‘n baba-muis. Bring haar heeltemal vermink binne die huis. Die muisie is halflewende en halfdood en my kop dink maar my lyf speel nie saam nie. Verbysterd besef ek die lewens-soen gaan nie werk nie … moenie so teen my lê nie. Jy maak my kop deurmekaar met lewendige, verminkte gedagtes …

Wielie walie walie al uitweg is die balie. Die muisie skreeu piep en krul van die pyn. My brein werk oortyd met idees om haar te verlos. Dan doelgerig gooi ek haar in die naaste toilet met ‘n God-vergewe-my-prewel-gebed … moenie so aan my raak nie. Jou hande stuur golwe van pyn deur my lyf …

Wielie wielie walie nou sien ek my alie. Met elke watergolf van die toilet klouter haar gretige kloutjies op teen die gladde wit bak. Haar pienk kraalogies smeek. Grypende pootjies en vraende ogies. Sy swem in ‘n toilet waterval. Is ons koppe dan heeltemal mal … moenie so in my oë staar nie. Dis nie asof jy ‘n traan gaan stort as ek dood is nie …

Wielie wielie walie die muisie sien haar alie. Saam met die volgende trek gooi ek ‘n hele emmer water in die toilet. Woeps waps val sy af na haar benoude watergraf … moenie so aan my vat nie. Jou hande is dood en koud. Koud soos die loop van die lewendige rewolwer teen my slaap …

Wielie wielie walie al biddend op my alie. God vergewe ons vanaand ons sondes … moenie so hardhandig wees nie. Dis somer. Ek wil nie langbroeke en langmou-toppies dra nie …

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply