‘n Noue ontmoeting

Dis half bedompig hier in die bistro. ‘n Eenvoudige bestel-sit-eet-betaal plekkie waar mense tussendeur shows hulle mae ook gelukkig hou. Die geur van knoffel hang swaar. Kielie die smaakpapille. Klou aan jou hare vas. Buite is New York se strate ysig. Dis al laataand maar mense beweeg soos miere.


‘n Vrou sit ongemaklik hoog op ‘n maer kroegstoel. By ‘n lae, ronde houttafeltjie. ‘n Halfgebrande kers in die middel. Elke keer as die glasdeur oopgaan soos mense kom en gaan, bewe die kers onbedaard. Gooi dit onaardse patrone. Speel die skaduwees met die opgeplakte prente teen die muur. Dan styg die rokie weer, so as of niks gebeur het nie. Kerswas drup-drup skelm op die houttafel.

Telkens koes sy met haar gesig en bo-lyf teen die koue vlaag wind wat inwarrel. Sy eet Franse uiesop. Veg met die lang, geel kaasdrade. Steek dan die soplepel diep af. Drink gretig die dun, bruin sop. Bemeester dan die kuns en draai die taai kaas om en om en om die lepel. Bring sy haar mond af tot amper by die sopbakkie. Sy eet lekker. Breek die broodjie met die lepel en druk dit met die agterkant af om die stomende vloeistof op te week.

Daar sit ‘n man oorkant haar. Hy eet ‘n hamburger en kyk sport op die TV-skerm teen die muur. Albei se trouringe glinster ritmies in die flikkerende kerslig. Hulle eet in stilte.

Skielik kom sy onrustig voor. Kyk sy agterdogtig om haar. Sy skuif ongemaklik op haar stoel rond en vang dan ‘n man se oë twee tafels verder. Die groot puppy dog oë hou haar nou al vir ‘n geruime tyd dop. Sy kyk dadelik af en eet verder. Sonder om haar kop te beweeg, asof sy ‘n stok ingesluk het, draai sy haar oë in daai rigting. Fokus sy op die rug van die vrou oorkant hom. Nee, sy sal nie kan sien wat hulle eet nie. Sy merk seker dat hulle ook nie juis gesels nie. Hy kyk weer. Skaam kyk sy weg.

Hy hou aan kyk. Sy loer weer. Hy draai vinnig sy kop en kyk kamstig by die venster uit … Mens kan niks deur die opgewasemde ruite sien nie. Net jou eie beeld en die flitsende ligte van bill boards wat die venster in al die kleure van die reënboog verlig.

Sy asem diep in. Blaas uit. Vat met haar hand op haar bors asof haar hart te vinnig klop. Deur haar denim broek vryf sy haar bene. Maak sy seker dat hulle nog daar is. Sy glimlag by haarself. Kyk weer in die rigting van die man. Met die glimlag nog steeds op haar gesig, glimlag hy terug. Vol mond. Effense stoppelbaard.

Haar wange slaan rooi. Lyk of sy die koue vlaag wind wat by die deur instroom, verwelkom. Ingedagte vleg haar vingers deur haar hare. Gebruik sy haar pinkie om te voel of haar mondhoeke skoon is. Haar oë blink. Sy geniet die onbekende aandag. Lyk of sy, dalk vir die eerste keer in jare, mooi voel. Begeerlik. Sexy.

Haar man staan op. Los sy stoel net so in die nou gangetjie. “Kom, is jy klaar? Moet voor betaal.” Die ander paartjie staan ook op en beweeg na die betaalpunt by die deur.

Haar man loop uit sonder om die swaar glasdeur vir haar oop te hou. Sy steek haar hand sterk uit in ‘n poging om te keer dat dit toeslaan. Die ander man spring haar voor. Sy kyk om en vir ‘n vlietende oomblik kyk hulle mekaar vol in die oë. Groet hulle mekaar … Sonder woorde.

Deur my oop venster kyk ek hoe haar man tussen die hordes mense wil-wil wegraak. Haar geloop word ‘n huppel soos sy vol nuwe lewe ligvoets agter hom aandraf. Speels vang sy sy hand met albei haar hande.

Hy stop hande-viervoet. Kyk bietjie verward af na haar. Vol afwagting lag sy oopmond. Sien ek hoe hy met nuwe oë na sy vrou kyk. Bring hy albei haar hande tot by sy mond. Soen hy elkeen saggies. Vryf hy sy hand deur haar hare.

Half ongeërg trek hy haar nader. Tot styf onder sy arm. Omvou hy haar met sy groot, warm jas.

Corner Bistro Window - New York, Derek Key
Corner Bistro Window – New York, Derek Key

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply