Eers het hy die bloeddruk opgejaag met sy rubriek Op die man af in Sarie en die afgelope twee jaar laat hy mense in hul graanvlokkies stik met sy rubriek Nou ja toe in Beeld. Die boek bevat ´n keur uit Andre le Roux se moedswillige Beeld-rubriek.
Lees onder meer oor Eugene TerreBlanche se hartstog vir sy ou ryperd, ´n minister wie se boude deur die hele wêreld gesien word, Bobby Skinstad se sonde met die bure en die biere, ´n balls-up op Bloemfontein se lughawe, die Sandtonse sekswerker wat twee weke met ´n ereksie rondgeloop het nadat hy hom met ´n teen-impotensiemiddel laat inspuit het, en wat gebeur wanneer Internet-minnaars mekaar ontmoet.
En dis nie al nie. Daar is ´n stuk met die titel “Hulle oe en aa en sê dan Yes! Yes! Yes!”. ´n Ander een heet “Boesak is die bliksem in, Boetman”. Lees ook van ´n burgemeester en sy muis wat weghol, President Mbeki se gesprek met ´n kens koei en hoe PW en ´n hoender om dieselfde vuur sit.
Andre! Andre! Waar dink jy al jou stories uit? JY IS BAIE STOUT!
Andre le Roux is die skrywer van die digbundel Struisbaai-blues, die roman Te hel met ouma! en die opspraakwekkende kortverhaalbundel Sleep vir jou ´n stoel nader. Sy stuitige Sarie-rubrieke, Op die man af, het ook in boekvorm verskyn. Hy bly in Kaapstad.