Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
Hulle kom haal vir oudpolisieman Zatopek van Heerden uit die selle, gisteraand se drink en baklei nog bitter in sy mond. Nou moet hy die asse van ‘n dooie ondersoek wegblaas op soek na ‘n kooltjie wat nog gloei: ‘n Middelklas-meubelhandelaar is in sy voorstedelike middelklashuis met ‘n blaasvlam gemartel en toe met ‘n M16 doodgeskiet. Een skoot; agterkant van die kop. Laksmanstyl. Hy het sewe dae om dié moord op te los en ‘n testament te vind, vir ‘n vroueprokureur wat met sy kop neuk. Asof hy dit nodig het – sy kop is deurmekaar genoeg, dankie.
En dié ding is boonop tien maande oud, die spore vaag, die enigste leidraad ‘n stukkie papier waarmee hulle te lank gelede dollars toegedraai het. Miskien báie dollars.
En wanneer alles skielik ontvlam, is daar snaakse gediertes wat uit die vuurlig probeer skarrel: Militêre Intelligensie, die CIA, Moord en Roof, georganiseerde misdaad op die Kaapse Vlakte. Hoe dieper hy delf, hoe meer lae hy van dié ding afkrap, hoe meer smeer hulle toe.
Tot die jagter die prooi word en daar meer is wat hom jaag as net sy eie, stink verlede.
Oor Orion sê Madeleine van Biljon: “Deon Meyer is op dreef . . . die held in Orion is hoogs intelligent, hoogs aantreklik en hoogs beneuk. Die meisies is hoogs intelligent, nie almal so aantreklik nie en een het ietwat ongewone seksuele smake. Die skurke is skrikwekkend, die verhaal gekompliseerd en spannend . . . ek het die boek soos ‘n luislang verorber en besluit Meyer skryf te min om my lus te bevredig.”
Deon Meyer is ‘n oud-joernalis en -reklameman wat deesdae sy brood as Internet-strateeg verdien. Hy, sy vrou Anita en hul vier kinders woon op Melkbosstrand. Vorige publikasies van hom sluit in twee romans (Wie met vuur speel, 1994, en Feniks, 1996) en ‘n kortverhaalbundel (Bottervisse in die jêm, 1995). Vertalings van sy boeke het reeds in Engels, Nederlands, Italiaans, Tsjeggies en Bulgaars verskyn.
Orion word uitgegee deur Human & Rousseau.
[bookpreviewer idtype=”ISBN” bookid=”9780798157438″ previewer=”embedded”]
