Jacques Pauw ontbloot die donkerste geheim aan die hart van Jacob Zuma se korrupte regering: ’n kankeragtige kliek wat die president se vyande uitskakel en die wetstoepassingsagentskappe lamlê deur van die goeie mans en vroue ontslae te raak.
’n Stryd woed rondom Zuma se politieke voortbestaan na die 2017 Gupta e-pos-skandaal. Die president se bewakers sorg dat hy, na jare se vernietiging van die staat, in ’n magsposisie en uit die tronk bly.
Maar is Zuma die poppemeester of die marionet?
Jacques Pauw ondersoek die verval van Suid-Afrika in ’n onheilspellende mafia-staat. Van KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap tot in die gange van mag in Pretoria en Johannesburg – en selfs tot vreemde vergaderings in Rusland. Dit is ’n spoor van leuens en spioene, van jabroers en gatlekkers en kontant en korrupsie. Pauw krap rond in die vuil nes waarin Suid-Afrika se vierde president van die demokratiese era sit.
Die eerste druk van The President’s Keepers het binne dae uitverkoop. Die tweede druk sal op 20 NOvember 2017 beskikbaar wees. Bestel onder of ’n elektroniese kopie vanaf Amazon.
The President’s Keepers / Jacques Pauw — Tafelberg, 29 Oktober 2017; sagteband. — ISBN 9780624083030
Bettie Blom,
8 November 2017.