Trompie en Saartjie

Op 15 Augustus is ‘n omnibus vir beide Trompie en Saartjie vrygestel.

Trompie

In hierdie omnibus, wat die eerste drie boeke van die gewilde Trompie-reeks bevat, ontmoet ons vir Trompie, die elfjarige sproetgesig Grootkaptein van die Boksombende. Hy en sy vriende Rooie, Blikkies en klein Dawie maak die lewe interessant (en soms taamlik moeilik!) vir die inwoners van hul tuisdorp, Kwaggaberg.

Hul avontuur met die dominee se bobbejaan ruk handuit en Trompie se poging om vir sy suster Anna ’n kêrel te kry, loop lelik skeef. Trompie wil ook baie graag ’n hond hê en het sy oog op ’n basterbrak genaamd Boesman.

In Trompie die stouterd trek Trompie vir die nuwe seun wat al die onderwysers se witbroodjie is, ’n lelike streep. In Trompie die soet seun besluit Trompie hy is moeg daarvoor om altyd in almal se slegte boekies te wees. Die Boksombende se Grootkaptein kondig aan dat dit tyd geword het om goeie dade te doen, maar dis glad nie so maklik soos wat dit klink nie!

Die ondeunde Trompie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Trompie en die Boksombende se avonture meegevoer word!

Trompie
Trompie

Skrywer: Topsy Smith

Saartjie

In hierdie omnibus, wat die eerste drie boeke van die gewilde Saartjie-reeks bevat, ontmoet ons vir Saartjie Baumann, die langbeenmeisie met die wipneus, kuiltjies in die wange en duisende duiweltjies in haar oë.

Hierdie rabbedoe en haar twee maats staan bekend as die Drie Muskiete en al wat hulle lewe versuur, is seuns en ’n klein niksnuts genaamd Muggie. In Saartjie se vakansie tref ’n orkaan ’n Johannesburgse woonbuurt en Saartjie kom af op ’n tweeling wie se ouers albei in die hospitaal is.

In Saartjie se geheim laat Saartjie se ondeundheid haar soos gewoonlik weer in die moeilikheid beland. Galpil-hulle is net mooi gereed om vrugte vas te lê wanneer ’n vreesaanjaende spook sy verskyning maak.

Saartjie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Saartjie en die Drie Muskiete se avonture meegevoer word!

Skrywer: Bettie Naudé

Lewer kommentaar

Leave a Reply