Waar’s Verwey nou?

Die bom-sirene het my nou drie dae en nagte loopgraaf toe laat hardloop met ’n honger maag; vuil en al. Ons duik almal vir die bomdeurtjies onder die vensters, steeds moeg van die onrustige slaap.


Sommige, soos deur-die-slaap-Verwey, bestorm die barakke se deure, deure wat die hele lot dom troepe in hulle spore stuit, want die deure gee nie bes nie. Hul angswekkende geskree laat jou keel toetrek van angs, terwyl die Stalin-orrel oorkant die Zambesirivier ontploffings rondom die basis laat blom. Jy wonder wanneer gaan ’n vuurpyl jou naam ophê en die snot, stof, sweet en trane op jou verlore vuil bakkies vir ewig uitwis.

Die ritmiese diep knal van ’n G3-kanon antwoord Swapo vanaf ons Vinella-basis, maar word weldra uitgedoof deur die massas vuurpyle wat oor die Katima op ons reën.

Ek val skeef agter teen die bunker se muur en wonder in ’n oomblik van verblindende helderheid hoekom my lewe, wat in stadige aksie in my kop afspeel, skielik nog stadiger begin draai. My asem en hartklop wil niks met mekaar uit te waai hê nie.

Ek wonder hoe ek in negentien jaar in hierdie vreemde wese kon verander en presies waarom en wat ek op hierdie stinkende ashoop in Afrika doen? Hoekom het ek toegelaat dat ek op ’n koue stasie op ’n trein klim sonder om te wonder oor wat ek doen? Anders as die idiotiese Verwey wat oorkant my sou sit, wie se hemp wil bars van patriotisme, wat my try brainwash oor volk en vaderland se oorlewing asook die trots van mamma, pappa en die regering en ons doel in die lewe op ’n vreemde land se onsigbare grens

My lyf pyn aan die linkerkant en die ander kant het in slaap verval, met my R1 wat seer teen my kort rib druk terwyl my ore doef-doef ver buite my kop. Ek probeer deur die donker, verstikkende stof kyk en luister hoekom dit skielik voel asof ek alleen hier is en angstig soek ek na iets wat soos ’n troep lyk.

Daar is skielik yslike stilte, gevolg deur ’n dwerguiltjie se roep wat skel opklink en amper my hart tot stilstand dwing. Op daardie oomblik val Verwey langs my neer nadat hy uiteindelik by die deur kon uitkom. My R1 is op hom gerig. Ek wil hom beslis nie naby my hê nie. In hierdie chaos wil ek nie meer my veilige spasie deel nie. Sy gesig is vertrek in ’n vuil mombakkies wat nie by ’n mens hoort nie. Hy weet steeds nie waar hy is nie, want hy het leweloos in my spasie ingeduik, gedra deur skrapnel wat sy liggaam absorbeer het na ’n ontploffing.

In die barakke is nog nege weggeblaas en met stukke mens wat orals rondval wonder ek hoekom ons terugveg met ’n G3 kanon? Die reuk van Verwey sit soos gom in my neus klou aan my lyf asof hy ’n reg daartoe het.

Na alles help ek dra aan die 10 swart sakke met lyke na ’n vliegtuig wat wag.

Jare later staan ek rustig op die nat stoep by die lughawe met ’n one-way kaartjie en wonder wanneer die reën gaan wyk, toe Verwey stil langs my kom staan en kalm na die wêreld staar deur die mistigheid van die reën. Ek kyk na hom en noem sy naam. ’n Teer maar opregte: “Dankie Verwey”.

Stalin-orrel
Stalin-orrel

(foto: RIA Novosti Argief, verwerk deur Quintus van Rensburg)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar