Wit op groen

Dis vroeg aand wanneer ek die vuur aansteek. En ek hou die eende dop. Seepglad en blink wit in die laaste lekkie son. Sneeuwit op die groen gras. Waggelend op pad na die dam. Eende stap rêrig in ‘n ry. En in pare.


Dis egter die bewegende spikkels om hulle wat my aandag trek. Klein bondeltjies gelerige bruin dons … hulle het kuikens.

Met goeie voetwerk van die ouers word die kleintjies die dam ingelei. Een na die ander gly hulle die water binne. Een outjie is skrikkerig. Hy word ligweg met die snawel aangepor, ingestoot. Hulle is so klein en lig, die water beweeg skaars. Klein brandertjies ontstaan wanneer die grotes induik, afduik, hulle snawels skud en blaas.

Later die aand wanneer ek die balkondeur toemaak, baljaar hulle nog steeds. Dis koel, maar dit lyk nie asof hulle dit voel nie. Die groot eende skyn wit in die maanlig. Hulle dartel plesierig in die blink, golwende dam. Die babas is amper onsigbaar en ek wonder wanneer hulle veertjies ook wit gaan word. Poue slaap in die groot boom wat oor die dam hang. Die paddas sing in ‘n koor.

Saterdag oggend span die katte saam om my op te kry. Toe ek my lyf onder die kombers effens strek, word dit van alle kante bespring. Dan om die beurt is dit koue neusies in my gesig, pootjies wat seer knie en lyfies wat verstik soos hulle purr. Ek staan hopeloos te vroeg op.

Te midde van ‘n miaauende begeleiding stoot ek die balkondeur oop om ‘n sonskyn dag te ontmoet. Maar die gholfbaan se immergroen gras is besaai met wit kolle … beweginglose wit spikkels … sneeu in die somer … vere confetti … koue, lewelose dons vlokkies. Laer af sien ek twee brandsiek honde wat deur ‘n gat onder die muur verdwyn. Afgebreekte, gerafelde toue hang seer van hulle nekke.

Daar is geen onsekerheid nie. Dis wit op groen. Die dood het die eende ingehaal.

wit eendeEk blameer nie die honde nie. Hulle was honger. Ek verafsku hulle eienaars. Duiwels wat hulle as mense voorgee. Wat hulle diere met kettings, toue en drade in die agterplaas vasbind. Tussen hulle vullis. Sonder water of kos. Sonder skuiling teen die hittige son, die wind, die reën, die bitter koue. Wat hulle ongenadiglik slaan, skop, brand, steek …

Ek braai vanaand weer. Die rookwalms van die nat hout maak my oë traan. Die effense windjie stuur ‘n kabbeling oor die leë dam. Die groot boom is swaar gelaai met slapende poue. Die paddas kwaak onverpoos voort.

Die oorverdowende knal van ‘n motor se uitlaatpyp verbreek die swaar stilte. Die paddas hou soos een man op sing. Die groot boom begin ritsel. Wieg heen en weer soos die verskrikte klanke van “help, heelp, heeelp” deur die hartseer nag weergalm. Word ‘n skudding in die aardbewing van hartverskeurende hulpkrete.

(foto Ernst Vikne)

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply