Met: Morgan Freeman
Regisseur: Lee Tamahori
In Along Came a Spider, die opvolg op 1997 se Kiss the Girls, maar gegrond op die eerste boek in James Patterson se Alex Cross-reeks, laat Morgan Freeman sy rol herleef as sielkundige en polisie-speurder wat sosiopatiese misdadigers jag.
Aan die begin van die fliek het Cross afgetree na die geweldadige dood van sy vennoot in ‘n polisie-operasie wat skeefgeloop het. Cross was verantwoordelik vir die operasie.
Daar sal natuurlik nie ‘n fliek gewees het as Cross by sy planne gehou het nie, met die gevolg dat, voor hy die versoeking kan weerstaan, word hy in ‘n kat-en-muis soektog ingelok. Dié keer handel die saak oor die ontvoering van ‘n Amerikaanse kongreslid se dogter, wat by ‘n eksklusiewe, hoë-sekuriteit skool in Washington gegryp word.
Op die oog af lyk dit of klein Megan Rose (Mika Boorem) deur een van haar onderwysers, Gary Soneji (Michael Wincott), ontvoer is – reg onder die die neus van die Geheime Diens-agent Jezzie Flannigan (Monica Potter), wat haar moes oppas. Cross word natuurlik aangetrek deur die interessante kriminele profiel van Soneji, wat gretig is om ‘n waardige teenstander te pak in sy strewe om die “misdaad van die eeu” te pleeg.
‘n Uiteensetting van die res van die storie sal die bietjie interessantheid wat daar in Along Came a Spider is bederf. Mens kan maar net sê dat die fliek soos ‘n legkaart werk, met ‘n paar kinkels aan die einde wat jou sal verras. Maar dié fliek vermy van die begin af die rou geweld en dreigende atmosfeer wat rillers soos Seven en selfs Kiss the Girls werklik vreesaanjaend gemaak het – miskien ‘n goeie ding vir dié van ons wat genoeg gehad het van die grafiese uitbeelding van geweld.
Ten spyte van oomblikke waarin logika effens skeef loop – die regsposisie van die polisie word nie duidelik uitgespel nie en die ontplooiing van die intrige is soms net te voor die hand liggend of gerieflik – het die fliek vermaakwaarde, grootliks danksy Freeman, wie se subtiele styl hom magnetiese krag gee.
Onder die regie van die Nieu-Seelander Lee Tamahori (Mulholland Falls & Once Were Warriors), dra Freeman die fliek met grasie. Dis nie spel waarvoor hy toekennings sal kry nie, maar dit is ‘n rol waar die geduldige selfvertroue in elke beweging en kyk, ‘n verbasende realisme skep.
Omdat Freeman jou aangryp, en daar genoeg spanning is, werk die rolprent as vermaaklike afleiding. Dit beweeg egter sonder veel onderskeiding op ‘n baie bekende terrein.
Om die waarheid te sê, daar is min in die eerste 75 minute wat dit laat uitstaan bo ´n gewone weeklikse episode van ‘n polisiereeks op TV.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
