Avatar

 

Met die vrystelling van ‘n fliek word die pap gewoonlik baie warmer gekook as wat dit geëet word.

Avatar was geen uitsondering nie. Die reklame mense het mal geraak. Lanklaas is so skaamteloos met ‘n fliek gespog is nog voor ons die eerste kykie kon kry.

Nou dat ek my beurt gekry het om self te kan oordeel voel dit half vreemd om te sê: Dis alles waar. Avatar is die kersie op 2009 se koek.

Die produk van 15 jaar se arbeid en meer as $300 miljoen (sowat R2,2 biljoen) is ‘n buitengewone film. Dit is baie meer as vermaak, maar dit is dit ook, tot in die hoogste graad.

Die storie speel af in die jaar 2154. Amerikaanse magte neem ‘n maan oor, een wat wentel om ‘n reuse ster. Die nuwe maan, Pandora, is ryk aan minerale waarvan daar ‘n kritiese tekort is op die aarde. Die maan hou geen bedreiging in vir die aarde nie, maar nogtans voel die Amerikaners dat hulle moet oorlog maak wanneer hulle beheer neem.

Die mens kan nie asem haal in Pandora se atmosfeer nie en die landskap is onbegaanbaar te voet. Om rond te beweeg gebruik die mens Avatars, organiese wesens wat gekweek is om te lyk soos die maan se oorspronklike inwoners, sagmoedige, blouvellige reuse met goue oë – die Na’vi. Elke mens het sy / haar eie Avatar wat met die brein beheer word. Teoreties kan jy niks oorkom as jou Avatar vernietig word nie.

AvatarAvatar se held is Jake Sully (Sam Worthington), ‘n parapleeg. Jake skaar hom by die Na’vi. Hulle leef in harmonie met die natuur. Jake se kennismaking met die natuur op Pandora laat jou telkens na jou asem snak. Die kyker raak so meegevoer dat min mense besef hulle het pas drie uur en drie minute in ‘n filmteater deurgebring.

Visueel is die besonderhede so fyn uitgewerk dat mens dit meer as een keer sal moet sien om alles te waardeer. Soveel so dat hierdie film as ‘n tegnologiese stap tot op ‘n volgende vlak gesien kan word.

Die fliek gaan goed wees vir die akteurs, ek voorspel dat ‘n paar van hulle oornag sterstatus gaan haal. Veral Sam Worthington, Zoe Saldana en Giovanni Ribisi. Almal gaan ook uiteindelik weet wie Stephen Lang is.

Avatar is dié fliek om te sien vanjaar, al is dit net om te kan saampraat aan tafel.

Regisseur: James Cameron
Met: Sam Worthington, Zoe Saldana, Sigourney Weaver, Stephen Lang, Michelle Rodriguez & Giovanni Ribisi

4½ / 5

bydrae: JM

14 Desember 2009

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply