Roekeloos
Weet dat jy ’n kat in die sak koop as jy Clash of the Titans in 3-D gaan kyk. Boonop is ’n normale kaartjie ook geldmors.
Die fliek is nooit in 3-D verfilm nie. Dit is na verfilming so behandel dat dit sekere beelde in 3-D vertoon. Dit was waarskynlik ’n poging om hierdie vervelige aanbieding se omset te verhoog.
Die film vertel die storie van die mense van Argos wat moeg raak vir die gode se nonsens. Hulle besluit om nie meer op hul knieë te gaan nie en dit krap die gode om, veral Hades (Ralph Fiennes). Hades besluit om die mense ’n les te leer. Die mense het egter ’n held en sy naam is Perseus (Sam Worthington). Perseus dink sy ouers was vissers, maar sy pa is eintlik die god Zeus (Liam Neeson) wat oulik gemaak het met een van die gewone mense. Nou moet Perseus met Hades gaan baklei. En dis makliker gesê as gedaan, veral as jy ’n kort rompie dra wat net-net alles toehou. Jy gryp egter die naaste swaard en gil, want die vark Hades jou geliefde Andromeda (Alexa Davalos) dood hê.
Miljoene dollar is spandeer aan die film, maar die spesiale effekte lyk steeds asof dit by Shoprite gekoop is.
Ek kyk eerder hoe die Lions rugby speel.
Regisseur: Louis Leterrier

Met: Ralph Fiennes, Alexa Davalos, Liam Neeson & Sam Worthington2 / 5
