Cloudy with a Chance of Meatballs

 

Flint Lockwood (Bill Hader) is ‘n wetenskaplike en uitvinder. Ongelukkig is sy uitvindsels, of van geen nut nie, of vol foute.

Een van Flint se foute gaan op loop toe hy probeer om ‘n oplossing te vind vir hongersnood. Die gevolg is dat in plaas van dat daar water reën, dit nou hamburgers, worsbroodjies, roomys en pannekoek reën. Met die hulp van die weermeisie Sam (Anna Faris) moet Flint nou probeer om sy blaps te herstel.

Cloudy with a Chance of Meatballs is ‘n baie oulike kinderboek. Die filmweergawe is ongelukkig ‘n ramp.

Enige Disney-Pixar animasiefilm staan deesdae loshande bo die res, of altans, sedert Disney se oorname van Pixar vervaardig die maatskappy weer kwaliteit animasiefilms. Hulle stel deesdae die standaard, een wat ligjare verwyder is van die fliek.

Sony, die maatskappy verantwoordelik vir Cloudy with a Chance of Meatballs, sal meer aandag moet gee aan die kwaliteit van hulle produksies. Die betowering van die oorspronklike storie het verlore geraak in die film en die animasie het nie Pixar se elegansie nie en die karakters is oordrewe en lyk asof hulle vir kleuters geteken is.

Die fliek probeer ‘n punt maak oor die gevare van gemorskos en van te veel eet. Soos dit egter vir my gelyk het was die effek eerder dat almal na die tyd lus was vir pizza en alles waaroor die storie waarsku.

Cloudy with a chance of meatballsDit is darem nie alles slegte nuus nie. Daar is heelwat snaakse tonele, oulike grappies en ek was verras deur die akteurs se goeie stemwerk.

Regisseur: Christopher Miller & Phil Lord
Met die stemme van: Anna Faris, Bill Hader, James Caan, Tracy Morgan & Mr. T

2½ / 5

6 Oktober 2009

Lewer kommentaar

Leave a Reply