eMedia het pas hul skreeusnaakse nuwe komedie “Die Fakulteit” bekend gestel. Die reeks speel af by die fiktiewe Hoërskool Oos, ‘n gemiddelde skool in die Oos-Rand van Johannesburg, en in plaas van die kinders, handel die storie oor die lewens van die personeel.

Die Fakulteit is geïnspireer deur die tipiese karakters van ‘n Hoërskool film soos die bleeksiel, die rugbykaptein, die skool se feeks en die pliggie. Daar is besluit om hulle tien jaar ouer te maak, hulle terug skool toe te stuur en hulle in beheer te sit. Die resultaat is ‘n komiese mengsel van intrige, kompetisie, ware lewenslesse en uiteenlopende persoonlikhede wat bots.

Rolverdeling sluit in sangeres en komediant, Bibi du Preez, as die waansinnige skoolhoof Dr. Reinette Naudé en voormalige Sterstatus-aanbieder, Leigh-Anne Fourie, as haar psigopatiese sekretaresse Annetjie Kitshoff.

Carl Trautman verskyn as Jan Gerber, die Wetenskap meneer, Abel Knobel as Du Toit Meyer, die Rugbyafrigter en Biologie meneer, Zöricke Snyman as Amelia de Waal, die Afrikaans juffrou, Carien Botha as Susan Steyn, die Aardrykskunde juffrou en hokkie afrigter, Tené Minderon as Sebine Kritzinger, die nuwe Wiskunde Onderwyser en nuweling Tabitha de Jager as Naledi Makwena, die Verbruikers studies leerkrag.

Die reeks skop af op die eerste dag van ‘n nuwe kwartaal met die sport afrigters wat vas sit oor die eienaarskap van waardevolle stukkie sport memorabilia, die openbaring van ‘n liefdesdriehoek tussen die leerkragte en die hoof wat dit haar doel maak om rokers op die skoolgronde vas te trek. Die res van die seisoen sal jou ook terug na die skoolbanke verlang met episodes wat teen die agtergrond van groot gebeurtenisse soos die Valentyn dans, Inter-skole, eksamens en selfs ‘n besoek deur die Departement van Basiese Onderwys afspeel.

Die reeks is tydens die Desember vakansie by Hoërskool Oosterlig in Boksburg verfilm en het die hulp van 30 leerders ingespan wie voor en agter die kameras meer geleer het oor die filmbedryf. Die reeks is vervaardig deur Michael van Zyl en Marno Koen van CoolerBox Brothers en regie is behartig deur George van Rooyen.

‘n Paar bekende gesigte sal ook hul verskyning maak, met gaskunstenaars soos sangers Jo Black (as homself), Zoé (as die gemeenste meisie in graad 11) en Vrede (as die tuiniers met “groen vingers”). Ander gaskunstenaars sluit in Suid-Afrikaanse naelloper, Geraldine Pillay-Viret, wat die rol van die buurskool se hoof vertolk en TV- en radio-aanbieder Carla Mackenzie wat ‘n noodhulpkursus by Hoërskool Oos kom aanbied.

Die Fakulteit begin Sondag 14 April 2024 op eExtra (Openview kanaal 105, Dstv kanaal 195) om 19:30.  Herhalings Maandae om 21:55 en sal ook op evod beskikbaar wees.

Die Fakulteit

Lewer kommentaar

Leave a Reply