Kaartjieverkope het pas geopen vir Lara Foot se Othello deur William Shakespeare, ’n produksie met ’n uitmuntende rolverdeling en skeppende span wat van 6 April tot 4 Mei 2024 sy Suid-Afrikaanse buiging maak in die Pam Golding-teater van die Baxter in Rondebosch, Kaapstad.

Toe dié hoog aangeskrewe produksie in September 2023 in die Düsseldorf Schauspielhaus geopen het, is dit met groot lof begroet. Haar regie van Othello het aan Foot die 2023 Gustaf-teatertoekenning vir Uitstaande Artistieke Prestasie besorg.

Weereens werk Foot saam met ’n bekroonde span: ontwerper Gerhard Marx, ’n Eckhart-genoot asook ’n genoot van die Sundance-filminstituut, die Annenberg-fonds en die Ampersand-stigting; komponis Kyle Shepherd (musiek); en, ontwerper Patrick Curtis (beligting). Die rolverdeling bestaan uit Atandwa Kani as Othello, Albert Pretorius as Iago, Carla Smith as Desdemona, Faniswa Yisa as Emilia, Carlo Daniels as Cassio, Wessel Pretorius as Roderigo, Morné Visser as Brabantio, Lyle October as Montano, Tamzin Williams as Bianca, Brendan Sean Murray as die Graaf en in ander rolle, asook Awethu Hleli, Nolufefe Ntshuntshe en Caleb Swanepoel in verskeie rolle.

In dié produksie plaas Foot die loep op Othello se binnelewe. Vir ’n Afrika-perspektief, word ’n paar tale gebruik, waaronder Engels, Xhosa en Afrikaans. Die gebeure word verplaas na die tyd van die Herero-opstand in Duits-Suidwes-Afrika toe die Duitse kolonialiste aan die bewind was, gebeure met implikasies selfs vir die hedendaagse Namibië.

Prof. Shose Kessi, Dekaan van Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad, verduidelik: “Lara Foot se verwerking van Shakespeare se Othello is ’n uitdagende dekolonialisering van die oorspronklike drama. Deur dit te plaas in Namibië (toe Duits-Suidwes-Afrika), word die gehoor uitgedaag om na te dink oor kolonialisering se nalatenskap van brutale geweld, soos tydens die Herero- en Nama-volksmoord in die vroeë 20ste eeu.”

Sy sê voorts: “Baie aspekte van Foot se produksie vra na ’n gedekolonialiseerde vertolking van Shakespeare se Othello. Die stuk, dalk een van die mees gesofistikeerde tot dusvêr, val binne ’n oeuvre van opkomende werk wat nie net die sentrale rol van Shakespeare en Westerse letterkunde in hedendaagse ruimtes probeer ontsetel nie, maar ook weerstand bied teen Eurosentriese vertolkings van die koloniale verlede. Dit beklemtoon die rol van teater as ’n politieke instrument om koloniale geweld te bevraagteken asook as ’n moontlike plek vir gedekolonialiseerde liefde.”

Toe die produksie verlede jaar by die Düsseldorf Schauspielhaus geopen het, kon die media nie uitgepraat raak nie. Die Kölner Stadtanzeiger beskryf dit as “’n kragtige, opwindende aanvang tot die seisoen in Düsseldorf”. Die Nachricht skryf: “Die Suid-Afrikaanse teatermaker Lara Foot slaag daarin om ’n nuwe perspektief op Shakespeare se toneelstuk te bied: sy verplaas dit na die tyd toe Europese kolonialisering hoogty gevier het.” N.R.Z. noem dit “weldeurdag, konsekwent en stylvol”, terwyl die Rheinische Post sê: “Die gehoor het met die openingsaand klinkend applous gelewer vir ’n aand wat gekenmerk is deur Shakespeare se tydlose kennis van die menslike natuur, asook ’n intelligente aanvoeling vir die hede.”

Dis ’n toneelstuk waarin Shakespeare sonder skroom van die grootste tragedie moontlik vertel: die tot niet making van ’n grootse liefde. Die wantroue, jaloesie en haat van mense wat nie andersdenkendes kan verduur nie, wat die vreemdeling met afguns bejeën, verwoes daardie liefde. Foot soek na die geskiedkundige spore van dié diepgewortelde haat en vind dit in haar vertolking in die koloniale oorloë van die 19de en 20ste eeu.

Othello word moontlik gemaak deur die goedgesinde ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Kulturele Sake en Sport, die Stad Kaapstad, die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, die Nasionale Kunsteraad, die Presidensiële Stimulus-werkskeppingsprogram, die Oppenheimer Memorial Trust en NATi.

Dit word in die Pam Golding-teater van die Baxter aangebied van 6 April tot 4 Mei 2024. Opvoerings is om 7.30nm, Maandae tot Vrydae, met Saterdae se middagopvoerings om 2nm en skole-opvoerings om 11vm in die week. Bespreek aanlyn by Webtickets (www.webtickets.co.za) of by Pick ’n Pay-winkels.

Vir blokbesprekings met afslag vir skole, studente en groepe, kontak Carmen Kearns by carmen.kearns@uct.ac.za of skakel haar by 021 680 3993 of kontak Mark Dobson by mark.dobson@uct.ac.za of skakel 021 680 3972.

Atandwa Kani as Othello, Albert Pretorius as Iago, pic by Fiona MacPherson
Atandwa Kani as Othello, Albert Pretorius as Iago, foto: Fiona MacPherson

Lewer kommentaar

Leave a Reply