Wanneer jy jonk is, is dit maklik om die bekende agter te laat op soek na nuwe avonture en geleenthede. Maar daar is sekere plekke wat diep onder jou vel inkruip en deel word van jou DNS… waarna jy altyd sal terugverlang. Die Vaaldriehoek is so ’n plek vir die gewilde alternatiewe duo, Victor Bravo, en is ook die inspirasie agter hulle splinternuwe rock-snit.

““Lê my neer” gaan oor die ongevraagde, onverwagde en dikwels onwelkome liefde wat ’n mens het vir die plek waar jy vandaan kom, in ons geval die Vaaldriehoek. Sonder dat jy dit werklik altyd besef, kruip ’n plek, sy mense en maniere diep in jou hart in, ongeag hoe vaal of onaanloklik dit van buite af lyk. Wanneer iets jou dan wegvat, besef jy hoeveel jy dit mis… selfs die dinge waarvan jy gedink het jy hou nie,” vertel Weco van Basten, die groep se hoofsanger en liedjieskrywer.

“Dit gaan oor my eie diep liefdesverhouding met hierdie plek wat my met swael en yster en sukkel gebreek en gebou het. Dis die plek waar my pa begrawe is, waar ek my vrou ontmoet het, waar ek getroud is, waar ek op skool was, waar ek myself verloor en weer gekry het. Dis ’n plek waar mense partykeer wil bolle rol, maar hulle laaste sny brood met jou sal deel. Hier het ek ’n man geword, ten spyte van my beste pogings om ’n dom kind te bly. Ons almal hier is net mense van die misweer.”

Hy verklap dat hy die liedjie geskryf het op die laaste dag van die praktiese sessie van Skryfnet se liedjieskryfkursus waartydens hy eintlik besig was om aan ’n ander snit te werk. “Deur die loop van die oggend het die woorde en die wysie net in my kop ingewaai en kon ek niks doen om die fokus terug te skuif na die liedjie waaraan ek besig was om te werk nie. Dit was die woorde: ‘As ek eendag dalk myself weer vêr bevind, weggewaai soos ’n saad op die rug van ’n moordwind. As my laaste kruispad in die verte is, sit my in ’n houtkis en lê my neer langs die Vaalrivier’. Toe laat ek maar die stroompie loop waarheen hy wou gaan.”

Volgens Jopie Pienaar, hoofkitaarspeler en mede-Vaaldriehoeker, is hulle nuutste vrystelling baie nader aan die soort musiek wat hulle aanvanklik wou maak. “Ons glo dat ons moontlik ’n nuwe tipe luisteraar gaan lok omdat hierdie lied ’n rock-aanslag het en beslis die tipe musiek is wat ons sou maak as ons groep uit meer as twee lede bestaan het,” sê hy.

Renier Henning was oudergewoonte aan die stuur van sake as vervaardiger, met Janes Blomerus op baskitaar en Vinnie Henrico op dromme.

“Lê my neer” is die vyfde radio-vrystelling uit hulle arsenaal van oorspronklike musiek en volg in die suksesvolle voetspore van Solank die liefde bly, wat in 2022 uitgereik is en ’n Melomaan-toekenning ontvang het vir beste duo-enkelsnit.

Lê my neer

Suiderkruis (2022), Skemer (2019) en Breakway Line (2018) het elkeen met ’n Afri-Indie-toekenning (beste kontemporêre enkelsnit, beste duo-enkelsnit en beste algehele enkelsnit) weggestap en vir verskeie weke bo-aan treffersparades regoor die land gekuier.

Victor Bravo het in 2018 hulle debuut in die musiekbedryf gemaak. In die kort tydjie wat hulle amptelik saam musiek maak, het dié musiekpaar (wat ook familie is) reeds talle hoogtepunte bereik, wat verskeie toekennings, twee Kaapse toere en optredes op verskeie groot musiekverhoë – waaronder Aardklop 2019 – insluit.

Wanneer hy nie op die verhoog is of liedjies vir homself en ander kunstenaars skryf nie, bou en ondersoek Weco data-sisteme by die werk. Hy is reeds van jongs af doenig met musiek, was as kind lid van die Drakensberg Seunskoor en het na skool drama en kreatiewe skryfkuns in Amerika geswot.

Jopie, wat mede-eienaar van CrossFit MTVE in Pretoria is, is net so passievol oor fiksheid en gesondheid as oor musiek. Nadat hy op skool sy eerste rockkonsert bygewoon het, het hy besluit om te begin kitaar speel en het sedertdien die kuns bemeester om sy vingers moeiteloos oor die snare te laat vlieg. Vanjaar beplan hy om meer vaardig te raak in musiekteorie en sy sangvernuf op te skerp.

Die veelsydige duo wou nog altyd gehad het dat hulle musiek moet wees wat ook al die luisteraar nodig het dit moet wees op daardie spesifieke oomblik wat hulle dit hoor. In 2024 is hulle vasbeslote om hulle eie klank in die bedryf te vestig en hulle eerste Engelse enkelsnit uit te reik.

“Lê my neer” is een van daardie liedjies wat aan jou hart gaan knaag en jou gaan laat verlang na die plek waar jy tuis voel.

“Ek het al verskeie kere weggetrek uit die Vaaldriehoek uit, maar kom altyd weer terug. Daar is ’n tipe magnetisme wat my hier hou – my wortels is, soos ’n wilgerboom s’n, iewers diep gebêre in die oewers van die Vaalrivier,” sluit Weco af.

Victor Bravo, foto: Gerduan Kemp
Victor Bravo, foto: Gerduan Kemp

Lewer kommentaar

Leave a Reply