Met: Steven Seagal en Tom Arnold
Regisseur: Andrzej Barkowiak
Van meet af moet mens sê dat Steven Seagal nou nie eintlik almal se ideale aksiefiguur is nie. Met sy uitstoot granietkakebeen, klein varkogies en stadige manier van praat asof hy sukkel om sy woorde te onthou, slaag hy nie eintlik as ´n akteur of ´n held nie. En hoewel hy baie bewonderaars het, het mens nie eintlik met groot verwagtinge na Exit Wounds gaan kyk nie.
Die storie wat afspeel in Detroit, hoewel die fliek hoofsaaklik in Kanada geskiet is, is basies dié van skelm polisiemanne wat gekonfiskeerde dwelms – in dié geval heroïne steel en dit dat terugverkoop aan dwelmhandelaars. Die polisiemanne kry $5-miljoen vir 50 kilos en almal is gelukkig. Behalwe dat hulle nie rekening gehou het met die eensame wolf, Speurder Orin Boyd nie – ´n rol wat Mnr Seagal goed ken.
Speurder Boyd is ´n baie doeltreffence een-man vernietigingspan. Die eerste 10 minute van die fliek gee ´n aanduiding van wat mens te wagte kan wees. Dit speel af op ´n brug waar ´n poging aangewend word om die vise-president van Amerika te kaap. Ten spyte van ´n ongelooflike aantal wapens, verraaier-motorfietspolisie, ´n helikopter en twee ploftoestelle wat aan die vise-president se motor geheg word, slaag die aanvallers se poging nie. En dit is toe te skryf aan die optrede van ´n nuuskierige (of is dit wakker) Speurder Boyd wat sien hoe een polisieman in die gevolg “iets” aan ´n ander oorhandig.
Nadat die aanvalsgroepie ammunisie opgebruik het wat gelyk staan aan ´n klein Afrikaland se bruto binnelandse produk, fnuik Speurder Boyd hulle man alleen. Maar ongelukkig word hy nie as ´n held beskou nie omdat hy tydens die reddingspoging die vise-president van die brug af in die rivier moes gooi. Nat, misrabele vise-presidente skep nie ´n goeie openbare betrekkinge-prentjie nie. In ´n komiese oomblik sê Boyd dat hy nie spyt is oor sy optrede nie, wat hy het “in elk geval nie vir hom gestem nie”.
Sy baas raak moeg vir sy wilde, onbeheerbare gedrag en stuur Speurder Boyd na ´n ander afdeling waar hy onbelangrike, vervelige werk moet doen. Maar daar is alles nie pluis nie en vyandigheid teenoor Boyd laai op. Hy kry ook te doen met ´n super-glibberige dwelmbaas Latrell Walker (met ´n strak gesig gespeel deur top rap-kunstenaar DMX) met pragtige klere, ´n asemrowende motor en ´n luukse woonstel. Anthony Anderson speel TK, Walker se vennoot. Hy is die snaakse vet man in ´n draaiboek wat ´n vermenging is van aksieflieks, “gangsta-styl” rolprente (met die onvermydelike swaar bas doef-doef klankbaan) en die angst van ´n kruisvaarder. Boyd weet nie wie hy kan vertrou nie of wie die werklike vyand is nie. As hulp opdaag is dit uit ´n onverwagte oord. En dit is die enigste vaagweg interessante kinkel in die fliek.
Exit Wounds bevat ´n paar grusame sterftes wat in detail uitgebeeld word, Kung Fu gevegte, fantastiese motors, geweld, helikopters wat neergeskiet word, swaardgevegte, vuurballe en ontploffings, die vernietiging van eiendom, lewens en voertuie en motorjaagtogte.
Besluit self of dit iets is waarop jy geld wil uitgee.
