Iron Man 2

Iron Man 2 

Roekeloos

Wat jy moet weet in een sin: Iron Man 2 steek sleg af teen die eerste film.

Alles is net té vlekloos; te Hollywood. Mens kort bietjie snot en derms iewers en masjiene wat nie lyk asof hulle nou net uit die winkel kom nie – waar hulle waarskynlik reeds op die rakke is.

Waar lê die fout? Beslis nie by die rolverdeling nie. Robert Downey Jr. tref weereens die kol as Tony Stark en Mickey Rourke oortuig as Whiplash sonder om te hard te probeer. Rourke se karakter kom oor as ’n ou hand onder die booswigte en betrek jou sonder om ’n oordrewe vertolking te lewer.

Die spesiale effekte is indrukwekkend en die aksietonele aanvaarbaar, hoewel laasgenoemde niks beter is as in 2008 nie.

Sowaar lê die blaam? Behalwe die ysterpakke wat te skoon is, by die draaiboek. Die film is nie halfpad nie, dan begin dit trek. Jy gaap, kyk rond en speel met die ys in jou Coke wat al lankal op is. Mens wonder hoekom die storie rondom Scarlett Johansson se karakter so gou afgejaag word en Tony Stark se alkoholisme net ’n partytjie lank hou.

Kan mens dit gaan kyk? Ja, beslis. Daar is sterk vertolkings en goeie spesiale effekte. Die teks is ook nogal skerp, hier en daar.

Wat jy gaan sien is hoe die regering druk plaas op Tony om sy Iron Man pak in ’n wapentuig vir die weermag te omskep, booswigte wat ook ysterpakke maak, sy sekretaresse wat haar weer wip vir hom en hy stamp weer koppe met sy vriend.

Iron Man 2
Iron Man 2

ps. Interessant om te sien (op Roekeloos.co.za) dat hulle Tony Stark geskoei het op die Suid-Afrikaner Elon Musk. Hy speel homself in die film.Regisseur: Jon Favreau

Met: Robert Downey Jr, Don Cheadle, Gwyneth Paltrow, Scarlett Johansson, Mickey Rourke, Samuel L. Jackson, Jon Favreau, Paul Bettany, Christiane Amanpour, Elon Musk & Sam Rockwell

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

3 / 5

Lewer kommentaar

Leave a Reply