deur Haydee Hollander
Johannes Kerkorrel called our bluff was my respons na ek Deon Maas (eks Gallo) se dokumentêr gesien het, weke na beeldsending, omdat ek in die buiteland woon.
Die dokumentêr is geskiet oor ‘n periode van agtien maande in Europa en Suid-Afrika en is geskryf en vervaardig deur Maas, jarelange besigheidsvenoot en vriend van Rabie. Die uitvoerende vervaardiger is Dumi Gumbi en die bekroonde Ivan Leathers was in beheer van die kamerawerk.
Met liedjies soos “Dis net jy”, “Al lê die berge nog so blou” en “River of Love” het hy my sowaar om die bos gelei. “Al lê die berge nog so blou” is boonop bekroon met twee Sama’s (een vir beste Afrikaanse vertolking en een vir beste manlike kunstenaar). Dit is Stef Bos wat uitwys hoe ondermynend Kerkorrel omgaan met ‘n tradisionele liedjie en die betekenis daarvan heeltemal verdraai. “This is fucking smart, this is amazing”, sê Bos. Geniaal noem ek dit, dat jy elemente van Afrikanerdom op sy rug kan keer, die geslag van die ‘beminde’ kan verander en die volk laat glo jy deel dieselfde sentimente. En so word “Al lê die Berge nog so blou” Suid-Afrika se eie gay volkslied. Bos verwys na Kerkorrel se verwerking daarvan as ‘n slim truuk om die afkeuring van homoseksueles op ‘n nasionalistiese manier oor te wen.
Die dokumentêr laat my met gemengde gevoelens. Nie ten opsigte van Maas se knap hantering van beeld- en argiefmateriaal nie en roerende (opstuwende) kameraskote nie. Veral die kronologie van beelde verdien vermelding: die openingstonele begin by die einde – ‘n motor op ‘n stofpad buite Kleinmond. Beelde van sy beginjare as rock musikant en tragiese einde is inmekaar geweef. Die eerste videomateriaal wat ons sien is van Kerkorrel op ‘n verhoog is wanneer hy die liedjie “I’ve got everything” sing wat aansluit by die talle vrae sedert sy dood in 2002. Hy was (blykbaar) nie klinies depressief nie, van sy laaste liedjies wat op die kompilasie Pêrels voor die swyne (2003) verskyn, is alles behalwe melankolies en op die rand van die dood (afrika, o’afrika, ek gaan aan, ek hoef nie meer te dink nie). Kerkorrel klink opruiend, vry van die stigma’s wat hom so lank agtervolg en bowenal vry van homself. Volgens die notas op die stofomslag het hy drank en dronkenskap gehaat? Ook het hy (blykbaar) nie finansiële probleme gehad voor sy dood nie. Nou waarop het hy ‘hoog’ geraak? Waaraan het hy ontsnap van die realiteite waarmee hy so lank gestoei het?
Ons sien onder meer onderhoude met Anne Grobler (Kerkorrel se eks vrou), sy seun Reuben, Janneke Strijdonk (agent), The Argus, Stef Bos, Lloyd Ross van Shifty Records, Jari Demeulemeester (van die antieke Belgiese teater), Willem Pretorius (sy biograaf). Maar dit is die onderhoude met Grobler wat jou aan die hart gryp. Sy kom baie goed oor. Opmerklik dat sy die een is wat hom die beste verstaan het. Grobler het insig in sy denke (én vergrype) gehad wat sy (soms) op komiese wyse verhaal.
Hoe is dit dan moontlik, vra jy jouself, dat Kerkorrel so seker was van sy politieke oortuigings maar nie van sy seksuele voorkeure wat met tye aan perversie en banaliteit grens.
“Hoe meer en meer van die groupies bygekom het, hoe moeiliker was dit om ’n kind groot te maak in dieselfde huis as Ralph én die groupies”, sê ’n nugter Anne. En dan is daar Reuben en sy onskuld, outydse waardes en hoflikheid wat jou so ontroer. En laat ons nou maar eerlik wees met mekaar: hy het Anne Grobler daarvoor te danke. Sy pa se seksuele voorkeure was vir hom ’n verleentheid al was sy pa sy groot held. ’n Skaam Reuben vra hoe jy na ‘n vrou kan kyk sonder om te dink dit is die wonderlikste ding wat God geskape het.
Elke Vandersypen, ‘n radio joernalis, sê hulle het nooit geweet wat Kerkorrel se voorkeure was nie. “Hetero? Biseksueel? We did not know.” Het hy sy seksuele voorkeure soos die politiek gebruik in sy musiek?
Raymond Van het Groenewoud som dit versigtig en diplomaties op, “die taal was eksoties, soos boheemse en eksotiese soetgoed, then it is up to the listener and the media to define the quality.” Vir die doel van Maas se program, het Van het Groenewoud ’n opname sessie onderbreek én sy selfopgelegde verbod om met die media te praat. Volgens Van het Groenewoud was dit die elemente van eksotika wat Kerkorrel se naam in die bedryf verseker het.
Maas wys ons materiaal van Kerkorrel se lewe in Europa wat nog nooit tevore deur Suid-Afrikaanse gehore gesien is nie. Ook heelwat tuisopnames, nog nie hier gebeeldsend, van sy lewe in België.
Joep van Muylders sê die Kerkorrel van die media en die televisie was nie die Kerkorrel wat hy geken het in persoon nie. “My first impression of him was of fire that burn too hot. He was an accident waiting to happen.” Dit is opvallend hoe radikaal die Suid-Afrikaanse interpretasies van Kerkorrel en sy musiek verskil van dié uit die Lae-lande.
Janneke Strijdonk praat oor die dilemma van Afrikaanse en Nederlandse musikante wat saam aan projekte werk. Netnou word dit verkeerd opgeneem, kom ons bel gou vir Thandi Klaassen om kleur te verleen aan die projek (“Sy wil dansen”). Jy staan verstorm oor hoe openlik Strijdonk praat oor die politieke berekendheid daarvan.
Luister na die geforseerde “Halala Afrika” en jy begryp waarom hy van politieke opportunisme beskuldig word. Tydens ‘n onderhoud vir die Belgiese radioprogram Einde Vande Wêreld sê Kerkorrel, “Halala Afrika is ’n loflied aan Afrika en vertel die verhaal van die kolonialisering van Afrika.”
Daar ís grensverskuiwende liedjies in sy repertoire soos Hillbrow hoewel ek persoonlik voel sy mooiste en roerendste dié is wat na 1994 verskyn het. Ná die struggle. Liedjies soos “Paradys”, “Dawid Ryk” en dié vanaf die album Die Ander Kant.
Ons sien Kerkorrel as die strategiese brein agter die Voëlvry beweging, die een wat tot sewe onderhoude op ‘n dag toestaan en dom vrae van Engelse joernaliste (Deon du Plessis) geduldig beantwoord. Dan gebruik Maas beelde van slumse Antwerpen en Kerkorrel se liedjie “River of Love” (call it love, call it lust, call it just what you want) om die donkerkant van die musikant se persoonlike lewe te onderstreep want in Peter Strijdonk se woorde kan jy in “vriendelike Antwerpen wees wat jy wil.” Tussen 1992 en 1999 was Kerkorrel se kontak met Anne en Reuben beperk. Sy verwys komies daarna as sy “eggo periode”. Uittreksels uit televisie onderhoude vir programme soos Stoppie Bus en Tussen Skote laat Kerkorrel, geklee in leerpak en donkerbril op ‘n verhoog voor ’n lewende gehoor, soos ’n prima donna lyk.
Maas vra indirekte vrae oor Kerkorrel se vigs-status (die bloedtoetse na sy dood is spoorloos) deur middel van beelde van koerantknipsels: Johannes Kerkorrel siek in hospitaalbed / Kerkorrel knip vertoning kort weens siekte / Rock musician Kerkorrel in a bad way / Kerkorrel improving after pneumonia bout’, ensovoorts.
Terug by die titel van die film. Ons weet nog steeds nie hoekom Johannes Kerkorrel dood is op die wyse waarop hy gevind is nie. Die gemis aan ’n onderhoud met die veelbesproke karakter Demetrios Demetriou sal jy altyd voel. Net hy kan lig werp op die rekenaar wat ‘n jaar geneem het om in besit te kom van die eksekuteur, Anton Burger. Die einste Burger wat in Rapport van 17 Oktober 2004 sê “daar was nog geen geleentheid om die rekenaar by Mnr. Demetriou af te haal nie.” Al wat jy (of jou sekretaresse) moes doen was om in jou kar te klim en soontoe te ry. Dit is nie baie moeilik nie.
Soek Maas ‘n invalshoek vir ‘n opvolg tot Who Killed J(F)K? Kyk of hier ‘n toesmeerdery betrokke is en of ons maar net (weereens) te make het met onbevoegdheid. Demetriou moet die pers en familie se vrae beantwoord rondom byvoorbeeld die lys van goedere van Kerkorrel wat in sy besit was na Kerkorrel se dood, die vrae rondom die testament (datums, handtekeninge ens) en natuurlik Kerkorrel se sogenaamde selfdoodbrief aan sy ma, gewysig op die einste rekenaar.
En waar is die onderhoude met die polisie, ooggetuies, die onderdruktes by wie hy hom geskaar het? Net soos Pretorius se biografie nie as omvattend genoeg beskou kan word nie (oor dieselfde redes as hierbo), is die leemtes in Who Killed Johannes Kerkorrel oorbrugbaar.
Maas eindig die film met ‘n kameraskoot van Kerkorrel se graf met die inskripsie “Al lê die Berge nog so blou jou woorde sal ons steeds onthou” en jy kan nie help om te wonder: is dit al wat oorgebly het? FAK woorde of was Kerkorrel se lewe ‘n bloudruk van perverse seksuele voorkeure?
