Jy moet die akteurs en regisseur / skrywer J.C. Chandor krediet gee, dit is moeilik om die bankwese opwindend te laat klink. Boonop is dit Chandor se eerste vollengte film, beslis ‘n sprong in die diep kant.
Margin Call bied nie veel om oor opgewonde te raak nie, maar ons sal nie Chandor sommer uit ‘n wolkekrabber gooi nie – ‘n regverdige einde vir ‘n Wall Street-luis. Dit is juis die beginsels van die soort luis wat hier onder oë geneem word. Wat doen hulle as hulle op ‘n probleem afkom? Maak geraas, hardloop weg, of soos dit deesdae voorkom, kyk of hulle kan geld maak daaruit?
Die storie in ‘n neutedop: Een luis bereken die bank se verlies is heelwat meer as die wins. Die luis vat die pad. Die res van die luise konkel onderlangs, wys vinger, ontken, beskuldig ens.
Ten spyte van die akteurs se goeie werk gee mens nie om wat gebeur met die karaters nie. Miskien is dit omdat selfs die “goeie” luise wonder of hulle regtig moet omgee oor wat met ander mense se geld gebeur. Mens wonder of Chandor empatie wil verwek vir die karakters?
Margin Call is een van daai films wat amper iets was. Ten minste ‘n goeie eerste probeerslag. Dit kry 6 op ‘n skaal van 10.
Met: Kevin Spacey, Paul Bettany, Zachary Quinto, Penn Badgley, Demi Moore, Simon Baker, Stanley Tucci, and Jeremy Irons.

Regisseur en skrywer: J.C. Chandor
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
