Met: Jim Caviezel
Regisseur: Mel Gibson
The Passion of Christ teer skaamteloos op ons emosies en is niks meer as ´n stuk fundamentalistiese propaganda nie.
Mel Gibson is ´n goeie akteur en sy The Passion of Christ, wat handel oor die laaste ure van Jesus se lewe, is kinematografies niks minder as goed nie. Verder is dit moeilik om die positiewe uit hierdie film te haal.
Kan mens anders as om Mel Gibson se integriteit in twyfel te trek? Mel Gobson is deel van ´n konserwatiewe beweging binne die Rooms-Katolieke kerk wat gekant is teen enige modernisering van die kerk. Hy het selfs ´n kerk laat bou vir die gemeente van “uitverkorenes”. Binne hierdie tipe konserwatiewe tradisie is om met bloed te betaal die wet van Transvaal.
Bloed sien jy meer as genoeg van in The Passion of Christ. Ons, veral Christelike organisasies, is gou om te kla oor oormatige geweld en bloeddorstigheid en films, maar skielik is meeste tjoepstil oor die fliek. Getrou aan die styl van Hollywood is die geweld in hierdie film grotesk.
Mel Gibson was ook eerlik daaroor dat die film nie gegrond is op enige Bybelse beskouing nie, maar op die boek van Anne Emmerich, Die smartlike Passie van ons Heer Jesus Christus.
Die film is oorweldigend, maar die tipe oormaat wat herinner aan die Duitse propagandafilms van die Tweede Wêreldoorlog.
The Passion of Christ mag dalk anti-Semitisme aanhits, maar soos almal het Gibson die reg om te glo wat hy wil en dit is sy goeie reg om dit te verfilm. Die vraag is of sy handewerk onverdraagsaamheid aanpor en of dit net doepa is om geloof binne die Christendom te versterk.
Mens bly tog wonder wat van die liefde geword het?
2/10
Koop/Buy The Passion of the Christ…
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)