Wrok

Die meeste Suid-Afrikaanse groepe en kunstenaars verkies om die veilige pad te loop. Maar dan kry mens Battery 9 wat nie bang is om te waag en die konvensionele grense oor te steek nie. Battery 9 spog reeds met vier albums: Protskrog uit 1995, Strop uit 1996, Gris die volgende jaar en die jongste, Wrok. Op hulle webblad word dit beskryf as ‘n “klankstandbeeld” wat genres eenvoudig ignoreer.

Dit is glo saamgestel uit angsvolle stories van vrees en mensehaat met ontstellende gehoorlandskappe as agtergrond, brutale en aanhoudende ritmes, ‘n goeie skoot funk en boonop ‘n paar snaakshede ook. Mens luister nie na Wrok vir ontspanning nie – dis harde werk en dis soms ongemaklik na aan die waarheid, maar dis uitdagend, stimulerend en kreatief en vol teenstrydighede.

Die belangrikste kenmerk van die musiek is seker dat Battery 9 weier om die lewe ernstig op te neem en dit regkry om jou te laat grinnik – ook oor jouself. Die bytende liriek in Afrikaans en Engels kon seker net uit Johannesburg se droewe omstandighede gekom het.

Battery 9 is Paul Riekert se baba. Hy skryf, speel en neem die musiek op. Battery 9 is die gevolg van Paul se verveling en frustrasie met die kreatiewe beperkings van ‘n gewone rock band.

Luister gerus na Wrok – dit is reeds bekroon as Beste Rock Album by die Suid-Afrikaanse Musiektoekennings. Paul beloof ook dat nog ‘n album binnekort aan die kom is.

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply