‘n Nuwe komiese drama wat afspeel in ‘n Kaapse vissersgemeenskap, is onlangs deur Penguin Films vir kykNET vervaardig. Die komedie is gebaseer op die gewilde strokiesprent, Treknet en word onder dieselfde titel op kykNET uitgesaai vanaf 7 Oktober 2013, elke Maandag om agtuur. Penguin Films het reeds in die verlede groot welslae behaal met ‘n ander strokiesprent wat ook omskep is in ‘n sitkom (Madam & Eve) en hoop om met Treknet weereens gewilde karakters dieper in kykers se harte laat kruip wanneer hulle lewe kry op die TV-skerm.
Die Treknet-strokiesprent is oorspronklik geskep deur Gavin Thomson & Dave Gomersall en word reeds 9 jaar lank gepubliseer. Dit het die eerste keer in People’s Post in Kaapstad verskyn, maar is sedertdien wyd gepubliseer in verskeie plaaslike, sowel as oorsese publikasies in Noorweë en Swede. Die Treknet-strokiesprent het selfs sy eie gewilde Facebook bladsy: The Official Treknet Fan Page.
Treknet handel oor die wel en weë van Boet Pieterse (Jody Abrahams) en John Smit (Leon Kruger), twee jarelange vissermanvriende. Hulle woon in Boet se vissermanshuisie in Kalkbaai en vang elke dag vis om hul rustige leefstyl te kan handhaaf. Verskeie ander vermaaklike karakters vorm saam met hulle deel van die klein vissersgemeenskap.
Mnr. Williams (Ivan Abrahams) en Mev Williams (June van Merch) is Boet en John se ouer, nuuskierige bure. Mnr. Williams is gerieflikheidshalwe hardhorend – meestal sodat hy nie na sy vrou se gesanik hoef te luister nie. Mev. Williams is ook hardhorend en hulle deel ‘n gehoorapparaat.
Sannie (Erica Wessels) en Annie (Lee-Ann van Rooi) is die eienaars van die plaaslike viswinkel. Sannie is verlief op John, maar hy kan nooit genoeg moed bymekaarskraap om hom aan haar te verbind nie. Annie jak voortdurend vir Boet af en wys al sy ywerige pogings om haar die hof te maak, van die hand.
Wiseman Sithole (Mbulelo Grootboom) en Oortjies (Alfredo Joseph) is ook deel van die pittige groep karakters, wat kykers se lagspiere gaan prikkel en hulle harte gaan aanraak, maar ook deurentyd gaan herinner dat ‘n meer eenvoudige lewe nie altyd so eenvoudig is nie.