Kritici het lanklaas so heftig verskil soos nou met Where the Wild Things are.
Josh Modell skryf in The Onion se A.V. Club: “Spike Jonze has recently said in interviews that his chief goal in adapting Maurice Sendak’s Where The Wild Things Are was to try to capture the feeling of being 9. By that measure—by just about any measure, really—he succeeded wildly.”
Op sy beurt skryf Lou Lumenick in die New York Post: “Some very good books were just never meant to be turned into movies. Sadly, you can now add Maurice Sendak’s 1963 classic Where the Wild Things Are to that list.”
Hierdie was ‘n ambisieuse projek om mee te begin. Om die gevoel van die tekeninge weer te gee is makliker gesê as gedaan. Dit is boonop ‘n fantasiereis met oomblikke wat vrees wek en daar is tye wat dit bekoor. In die boek word die tekeninge ondersteun deur net nege sinne, ‘n taai toffie om te kou vir enige filmregisseur.
Maurice Sendak se boek skets die verhaal van Max, ‘n seuntjie vol energie, maar tog ook sensitief. Max se dag tot dag bestaan is vir hom ‘n bron van frustrasie, want hy voel sy familie verstaan hom nie. Hy ontsnap die alledaagse na ‘n fantasie eiland waar “Wild Things are”. Die wilde monsters wat daar woon se dade en emosies is onvoorspelbaar. Max word as hulle koning aangewys.
Alles in ag geneem is Spike Jonze se weergawe nie té sleg nie. Dit het beslis artistieke meriete en is visueel stimulerend. Die film sukkel egter om enige vorm van momentum te kry. Jou agterstewe vertel vir jou dat alles net te lank neem.
Dit is die moeite werd om hierdie fliek te gaan kyk, maar weet dat dit nie nét ‘n aangename ervaring gaan wees nie. Diegene wat nie regtig insae het in hoe kinders “werk” nie gaan nie juis byval vind hierby nie. Jonger kinders gaan ook nie altyd sin kan maak van wat Jonze probeer oordra nie – en dit is waar die boek en die fliek verskil, die sentrale tema is daar, maar die aanbieding verskil soos dag en nag.
Die laaste woord: ‘n Goeie film, maar sommige mense gaan dit moeilik vind om te verteer.
Regisseur: Spike Jonze
Met: Catherine Keener, Mark Ruffalo, James Gandolfini & Forest Whitaker
3½ / 5
17 Desember 2009