X-Men 2

Met: Patrick Stewart, Halle Berry, Famke Janssen, Hugh Jackman, Anna Paquin en Rebecca Romijn-Stamos

Prof X en die res van die mutasies is terug op die groot skerm en soos met meeste opvolgprente vanjaar kon ek nie wag om die een te sien nie. Sjoe, hoe het dinge nie verander nie? X2 (´n rolprent of sy opvolg moet mos deesdae ´n cool afkorting hê: ID, MI, MI2, XXX) sal nie die swakste rolprent wees wat ons vanjaar sien nie. Die klomp prentjieboek-karakaters doen alles wat jy van hulle verwag en neem meer as 2 ure om klaar te kry.

Professor X (Patrick Stewart) word toegesluit en sy spannetjie is op hulle self aangewese weens ´n bose ou se onderduimshede. Die twee kante uit X-Men word gedwing om kragte saam te span om die dreigende gevaar hok te slaan.

Die film is uitstekende lighartige vermaak met ´n storielyn wat lekker baie vertakkings het.

Aan die negatiewe kant lyk die fliek vir my veels te veel na die oorspronklike, so of die vervaardigers vir ons dieselfde poeding opdis, die keer net met ´n ander sous. Hugh Jackman lyk ook asof hy die aansporing wat daar was met die eerste rolprent verloor het. Laastens (waar poeding hoort, never maaind wat Nataniël sê) sien ons baie van Halle Berry, Famke Jansen is weer terug en Rebecca Romijn-Stamos is meer in haar menslike vorm te sien.

7/10

Lewer kommentaar

Leave a Reply