Deur die oog van ‘n naald

“Dit bly vir my ironies – en soms was dit vir my pynlik ongemaklik – dat ek selfs in die moeilikste dae in Afrikaans gedig het, en my diepste pyn daarin verwoord het.”

So skryf Mathews Phosa, spreker van nege tale, oor die taal waarin hy sy skoolopvoeding ontvang het, en wat hy as ‘n soort moedertaal in sy lewe beskou.

Sy digkuns is gelukkig nooit gesien as ‘n manier om “die taal van die onderdrukker” populêr te probeer maak nie. Poësie het ‘n manier om deur ideologiese versperrings te breek en harte te raak.

Vandag is Afrikaans saam met die ander inheemse tale bevry, en die digter doen ‘n beroep: “Kom ons oefen ons tonge los, sodat ons deur ons pragtige, rou, ritmiese tale die wonde van die verlede kan help genees.”

Vanweë sy druk politieke program bestempel Mathews Phosa homself as ‘n “sigaretdoos- en notulepapierdigter”. Agter op ‘n sigaretdoos staan gekrabbel: “. . . een man se vryheid is nie die ander man se enslavement nie … apartheid moet stop vir almal … wit apartheid is so sleg soos swart apartheid”.

Sy gedigte is ‘n snelskrif waardeur diep verskuilde gevoelens tot uiting kom: vernedering, woede, verset, triomf, en uiteindelik verootmoediging in gebed.

Deur die oog van 'n naald
Deur die oog van \’n naald

Dié hersiene uitgawe bevat 15 nuwe gedigte wat hy spesiaal vir dié bundel geskryf het.

Nakedi Mathews Phosa is op 1 September 1952 op Nelspruit gebore. Hy het aan die Universiteit van die Noorde in die regte gestudeer en in 1981 ‘n regspraktyk op Nelspruit geopen. In 1985 het hy die land verlaat, en in 1986 streeksbevelvoerder van MK in Mosambiek geword. Nadat die ANC in 1990 ontban is, het hy ‘n belangrike rol in oorgangsinisiatiewe gespeel, o.m. in Kodesa. In 1995 het die Universiteit van Boston in die VSA ‘n eredoktorsgraad aan hom toegeken.

Lewer kommentaar

Leave a Reply