citrus
Ek breek jou oop
elke dag
Ek skil die jare af
en jy bloei oranje
Jy bevlek my vingers
taai
soos ek in jou vlees grawe
Nadenkend swerf jy na my lippe
afwagtend oop
asem ek jou geur in
voor ek jou tussen my tande
glip
Jy bars oop in my keel
Ek sluk
maar jou smaak draal
soos jou nagedagtenis
en jou skerp onthou
wat my vingers bevolk
Jy klim onder my naels in
en telkens roep my sintuie
na die herhaling die herhaling die herhaling
van jou
Ek smag na winter
Jou seisoen van fleur
vergesel deur grys geraamtes
grys, grys hemele
en die reen, gesigloos
asemloos
Dis jou kleur en bloed
wat my aan die lewe hou
Dis jou geur wat my deurdrenk
Die kontoere van jou liggaam
daar waar jou mond eens was
daar waar woorde eens was
Ek verwond jou, byt jou
seer
Ek verslind jou woordeloos
want jou stilte dryf my
verhonger my
verorber my
Julie 2005
Walvisfees
Dit reën hier in die mis jou
Die bietjie jy wat ek onthou
Die bietjie mens wat ek wil vashou
sweef die naweek saam met walvisse
duskant die strande van Hermanus
Een van die vrugbare skepe het my bottel gevind
dit liggies oopgedwing
en my woorde binne gevind
Mag hy my geheime in die donker dieptes fluister
Die antieke vibrato weergalm my gister
vergete en duister
Die verregaande droom
Wat ons almal daagliks skep
Dryf asemloos, verstrengel in wier
Lankal vergaan
En ek weet dat jy nie luister nie
want jou oë verken die horison
soekend na die Een
wat nooit sal kom
23 September 2004
Bagdad
bedonnerd die bliksems
wat die bomme neerfel
so leef elkeen tog
seker in sy eie hel