Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Weggooi Hart
My hart is verlore op plekke van veelvoud:
Op die rotse van ontrouheid
het dit stukkend gebreek.
Die stormwaters van lis
het dit sielsdiep versteek.
Deur die dieptes van teleurstelling
is dit steeds-pompend meegesleur.
ODE:
Gegee aan ‘n Meermin
met lokke in vuurrooi-vlam,
Aan ‘n Feeprinses
met maanlig-glimlag wat verlam,
Aan ‘n Waternimf met oë van saffier,
En laaste aan Venus; gevaarlik-mooi versier,
Smag my hart nogeens daarna
om weggegooi te word!
VERLAM:
Massogisties-gewilliglik plaas ek dit
(Die helende klip) in die dom hande
van die volgende verbande
En vind ek myself weer op die boot
waar soeke en seer kan eenword, verdood.
Met opgehoude asem soek ek,jag ek en droom ek,
Tot ek haar eindelik weer mag vind
waar sy op die rotse sit en sing.
Sy kam haar lang-blink hare
Met stadig-uitlokkende hale.
Omring deur listige, rowwe golwe
vat sy weer die gewillige klip, en
Voel ek hoe dit breek – weer bedorwe
Met die lomerige knip van haar soele oë
Is ek opnuut (onbegryplik)
Weer gestorwe.
Swyende Swig
die vars-aarbei-asem
dans uit haar Delila-mond
soos vroegoggend-wasem
ek ruik haar lekker nek,
tas-tas na lokke, blombedek
sy wink-wink met Jesebel-oë
ek, prooi, word bedwelm
onbewus van my vermoë
my wange streel oor meerminborsies,
ek hap-hap na die smullige porsies
haar nimfienaeltjie roep my tong
ek voel hoe sy my vonnis fel. ghong.
Die Onrus Oor Jou
In jou gesteelde omhelsings
Agter die kraalmuur van verraad,
Teenaan die lendelam heining-draad
Proe ek jou rooiwyntong, hoe die nattigheid waarsku
Ek wil nie luister
Hou jou teen my vasgekluister
Waar ek na jou ongetemde-stem kan luister,
Jou bessie-soete vel kan opruik,
Jou lus en liefde kan opgebruik
Die koue wind van magnie,
Die warm son vol kannie
Vermoor ons harte, siele tesame.
Niks meer stemme, hygings of name
Net ek en my taai drome,
My onrus oor jou, volkome.
Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.