Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Memoir
Ek het jou liewer
Ek het jou liewer
as woorde
of musiek,
die helder klank van die nag.
Ek het jou liewer
as stories
of drome,
of selfs die jare van my jeug
Ek het jou liewer
as wat ek kan verdra.
Stilte
Noudat alle wit woorde
tussen ons weggewaai het
en die tyd weer aanhink sonder jou
kan ek jou nie meer hoor nie
juis nou,
dat ek die taal anderkant jou stilte
so bitter nodig het.
Jou naam
spikkelwit braille in die blou, blou lug
strepies huil teen my venster af
‘n punt, ‘n uitroep net links van die maan
vlymskerp beiteltjie
oor en oor
afskeid
vanaand sal ek op jou kussing slaap,
my lief,
sodat ek jou kan saamneem
na waar geen afskeid of afstand
ons twee kan skei nie
vanaand,
as die huil na jou
nie wil ophou nie
Mymering
Dis drieuur in die môre,
ek sal die maan weer sien
net soos die eerste keer.
Jou skadu lê vannag so naby
en jy so ver,
so ver.
Die bitter
smyt ek uit
en skink my glas
vol vergetelheid
ongetiteld
Ek moes kon raai
of aanvoel in die draai van die nag
dat jy nou deel
van ‘n ander wêreld is.
Jou lêplek langes my
het koudgeword, my lief.
Ek trek vir eers die hortjies dig
sodat jy nie die vaal reën sien
wat in my oë uitgesak het nie.
ongetiteld
As die Suiderkruis
aan my daknok raak
en die maan sy rug op my draai
verskiet jy teen die donker verlang
ligjare ver van my
sonderjou
ek sleep die dae
hinkend agter my aan
verlang is ‘n meulsteen
wat my hart laat verdrink
in die diepkant
van die grys onthou
en die swart sonderjou
Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
