Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Heilige Gees
Die Heilige Gees
werk hier binne my
Hy lei my op sy weë
so sorgeloos en vry …
Hy open my oë
sodat my mond kan bely
God se genade is beskore
Vir jou en vir my.
2 Nov 2008
Hoop
Hoe oneindig diep steek die pyn
Wat my hart laat wegruk
In ‘n wentelbaan donker en verlore
in die heelal se sterreskyn …
Hoe seer maak die woorde
Hoe eggo elke letter se refrain
Woorde wat mens kan ophef en
woorde wat lewe in jou kan laat verdwyn …
Hoe gryp mens vas aan HOOP
as dit hang aan ‘n dun silwerdraadjie
God lei jou hand daarheen.
Jy hou dit vas met GELOOF
Al is dit so klein soos ‘n mosterdsaadjie.
17 September 2008
Teleurstellings
Die teleurstellings in jou lewe
Gooi jou soms terug …
Op die pad wat jy voorheen geloop het,
Maar hierdie keer kyk jy nie terug.
Die teleurstellings in jou lewe
Bring die kosbare besef.
Die klein dingetjies in jou lewe,
Sal jou altyd bybly as die wêreld jou faal.
Die teleurstellings in jou lewe
Wys jou die regte weg.
GOD IS ALLEEN IN BEHEER.
Jy is sy diensbare kneg!
20 Maart 2008
Die Bosveld
My hart trek vandag ‘n punt,
na die wye Bosveld
waar ek groot geword het as ‘n kind.
Die herinneringe neem my terug,
na die skoonheid van ‘n doringboom,
‘n sonsondergang wat hang op ‘n berg se rug
Sorgvrye … Sonskyn Kinderdae …
reëndruppels wat plas in die sand,
en vinnig wegsink in die aard se lae.
My ouerhuis sal ek vir altyd onthou,
‘n ouerpaar wat my toevou in hul liefde
en my vertel van die sterre en die “Piet My Vrou”
My hart trek vandag weer ‘n punt …
Die Bosveld se roep bly in my ore weerklink
Net in die Bosveld sal my siel ware vrede vind!
25 September 2007
Ek en Jy
Vertel my van jouself … Sê my wie jy werklik is
Vertel my van jou verlange … Wys my waar jou gedagtes rus
Vertel my van jou hartseer … Sê my waarom jou siel nooit rus
Vertel my van jou kinderdrome … Neem my na jou hartkamers van geluk
Vertel my waarom Ek en Jy nie dieselfde is.
20 Maart 2007
Bitter Soet Seisoen
Kaalvoet loop ek in die pad,
Die winter kruip nader en beklem my hart.
Soet, soet somer, jou voëlgesang word stil,
Nog ‘n bitter soet seisoen word in stilte gehul.
Kom koue winter, kom kruip hier in my hart,
Kom wys my jou angel, kom wys my jou smart.
Verdryf al my hartseer en troos my met jou prag,
Doudruppels wat glinster in die oggendson se lag
13 Maart 2007
My Kinder Paradys
Ek wil jou nog gaan wys,
Hoe lyk my kinder paradys …
Ek wil jou nog gaan wys
Waar lê my spore in die huis …
Ek wil jou nog gaan wys,
Waar reëndruppels dammetjies maak langs die huis …
Ek wil jou nog gaan wys
Waar die sterre my wegvoer na God se heerlikheid
25 Januarie 2007
soms
Soms wonder ek of jy weet waar lê my hart se skat,
Soms loop die lewe met ons ‘n vreemde pad …
Soms soek ons vergete na ‘n lank verlore skat,
Soms moet ons omdraai op ‘n verkeerde pad …
Soms neem die rigtingwysers ons nader aan ons skat …
Soms wil ons nie erken ons is die oorsaak van ons eie smart!
11 Desember 2006
Ek is jy …
‘n Moeder is jy nog steeds vir my
Al is ons weë vir eers geskei,
Hierdie spesiale band so eg,
My loop, sit, staan .wat kan dit verberg!
Ek hoor nog jou lag elke dag …
Jou beeld kry gestalte in my wandel dag na dag
Jou stempel is perfek afgedruk,
Ek’s jou dogter! – dit is my kosbare skat van geluk!
26 Mei 2006
Moederlief
Sal die hartseer en die pyn,
en die hunker ooit verdwyn,
Na my moederlief, so teer,
wat haar aan my gewy het, keer op keer.
Sal my hande ooit vergeet,
al die drukkies ongemeet,
Die vertroetelling as jy vryf,
oor my hare, en my lyf.
Sal my stem weer vrolik klink,
as ek “Mamma” sê soos ‘n kind,
Hoe verlang ek na jou lag,
raad en leiding elke dag.
Sal my oog ooit kan vergeet,
al die blydskap en die leed,
Klein armpies om Ouma se nek,
‘n kinder soentjie uit liefde en respek.
Sal my hart ooit kan verstaan,
waarom die pyn nooit weg wil gaan,
‘n Pyn so diep en seer..
dis ongeneesbaar .. O Heer.
19 Februarie 2003
Vir my kinders …
(Zelda, Gerhard & Lizaan)
Vir my kinders wil ek gee.
Net die beste wat hul hart begeer
Vir my kinders wil ek leer..
Die Heer se weg is die grootste Eer
Vir my kinders wil ek sing.
‘n loflied wat hul harte sal omring.
Vir my kinders wil ek bid.
Sonder ophou ….vir jare se seën en geluk!
22 Februarie 2006
Vir my man Gert
God se engel stuur jou na my
Wat God saamvoeg, mag niemand skei,
Die Heer het sy hand wyd oopgesprei,
Ons geseën met drie kinders wat sy naam bely.
Na soveel jaar is jy getrou aan my sy,
Op die vleuels van jou liefde bly ek gedy …
Soos ‘n edelsteen skyn jou lig voor my
Met hierdie lig in my lewe, sal my voet nooit gly.
Ek dank my Skepper en Heer
vir ‘n sielsgenoot soos jy!
Ek sweef deur die lewe,
Met jou my liefling aan my sy!
Februarie 2006
U
U gee my moed …
U gee my kalmte,
Vir my swaar gemoed.
U neem my hand,
U hou my vas,
U droog my traan
As ek huil in die nag.
U sien my lief,
U sien my leed,
U sien die verlange,
Wat so aan my vreet.
U hoor my huil,
U hoor my lag
U hoor my gebed,
As ek u dank elke dag.
U betoon u liefde,
Aan my so getrou,
U’s my Herder en U lei my,
Dit sal ek altyd onthou.
18 Desember 2002
Verlang …
Ek soek jou in die voorhuis,
Ek soek jou op die stoep,
O waar is jy, as ek na jou roep?
Ek soek jou in die tuin,
Ek soek jou om die hoek.
Net die sagte geur van bloeisels,
Kom my tegemoet.
Ek soek jou in die kamer,
Ek hoor jou in die gang.
Dis die eggo van jou voetstap,
Waarna ek verlang.
Ek soek jou in die more,
Ek soek jou in die dag.
Net soete mooi herinneringe,
Troos my dag na dag.
O die hartseer en die pyn,
En die verlange wat nooit sal verdwyn.
6 Desember 2002
Delia,
Kan jy ons kontak asseblief, indien jy die boodskap sien.