Vlinder-meisietjie

Bose, kru, gevoellose daad
verminkte vlinder-meisietjie
my kindjie, geknak, wreed geskaad
haar siel is leeg, donker, dof
verminkte vlinder-meisietjie
het ‘n wriemelende wurmpie geword
“Sien jy die vlinder-meisietjie se onooglike
liggaampie?”
bloeiend, brakend, wreedaardig geskaad
daar is geen groter pyn, as om te lewe
as jy nog wil lewe
met ‘n nimmereindigende hartseer

Te midde daarvan grinnik die bose barbaar
sy afskuwelike walglike daad
verskaf hom groot genot
sy rooi oë soek nog ‘n prooi
hy kwyl soos ‘n geeltand-wolfhond …
tot dood veroordeel
sluk die hel se vuur hom gulsig in
Brand jou hond! Brand! Brand!

klein vlinder-meisietjie sonder vlerke
as jy haar nog ‘n vlinder kan noem
as ek vooraf geweet het, het ek gewens
my liefste wriemel-wurmpie,
het ek maar jou pyngille gehoor my kindjie
het ek die barbaar gekeer!
ek wens my liefste wriemel-wurmpie
ek wens jy kon nuwe vlerkies groei

© Elize Ehlers, 2025

Samaritaanse liefde

Ankerlose, rustelose, rigtinglose paaie

wat die boemelaar nie kon vermy

verslete, gelapte ou klere… knap, karig, skraps

mus op die kop, omgee lankal op

afhanklik van ander se hartelose genade

ineengekrimp van al die aanslae

soos ‘n tolbos, alleen, windmeul die lewe hom genadeloos

as jy dit lewe kan noem!

niemand verstaan, sal nie verstaan ​​nie…

miskien verstaan ​​dieselfde vrou wat

elke nag op dieselfde hoek staan?

Die langbaard, rigtinglose boemelaar is vuil,

maar hy is gewoond aan die stank

en die honger wat hom opvreet

“Sien julle die bondel bene, moeg vir die lewe?”

hy lê opgekrul in ‘n hoekie met ʼn vodde-kombers

die barmhartige Samaritaan sê die kombers is gedaan

en gee hom ‘n ander een

en iets om te eet en om sy dors te les

“Baie dankie” sê die boemelaar bedees

Die boemelaar bid:

“Dankie Jesus vir die genadegawes,

vergewe my vuilgebaard en my stinkende klere.”

Jesus antwoord: “Voorkoms is van geen belang,

daar is baie wat nie Samaritaanse liefde ooit sal verstaan.”

Niemand gee om of stort ʼn traan,

die dood is tog elkeen se lot

Die boemelaar is vlekkeloos, spierwit geklee,

glinster-blink-grys baard,

eindelik rus, liefde en aanvaarding gevind by God!

@ Elize Ehlers, 2025

Lewer kommentaar

Leave a Reply