Helene Bester bring in haar produksie – Helene Bester sing Nana Mouskouri – hulde aan hierdie ikoniese Griekse sangeres. Die teks en regie word hanteer deur Frans Swart van Lefra Produksies en musiekregie is te danke aan Heinrich Pelser. Die produksie word op Sondag, 20 Julie 2025 om 15:00 by die AfriForum Teater aangebied.
“Ek het nog altyd daarop gehoop om ‘n Nana-vertoning te doen. Ek is so mal oor haar stem en ek en my sussie het met haar musiek groot geword” vertel Helenè. “Ons het rerig gedink dat sy ‘n vriendin is van my ma. My ma en sy lyk so eenders. Tog dink ek dat die tyd nou eers ryp is vir my, om die vertoning te doen. Ek glo nie dat ek hierdie musiek so goed sou kon interpreteer tien jaar terug nie. My stem is ook ouer en klink dalk meer volwasse, wat ek glo meer by haar teikengehoor aanklank vind.” Ek’t haar musiekvideo’s “opgeswot” om te kyk hoe sy beweeg op die verhoog, wat sy met haar hande doen en hoe sy ‘n gehoor aanspreek. Mens wil dit tog so geloofwaardig moontlik maak. Regisseur Frans Swart stem saam: “Toe Helenè my oor hierdie projek nader,was ek dadelik opgewonde. Wie dan nou beter as die talentvolle Helenè om hulde te bring aan die tydlose en elegante Nana Mouskouri?”
Terwyl Heinrich Pelser klassieke kitaar by Tuks studeer het, het hy sessies begin speel vir verskillende orkeste en solo-kunstenaars, onder andere Helene Bester. Hy het saam met groepe soos Ice Project en Frankie Fire opgetree by onder andere die Staatsteater, Grand West Arena, die Standard Bank Arena en die hoofverhoog in Oppikoppi, om ‘n paar te noem. Heinrich was ‘n stigterslid van die instrumentale groep Awesome Foursome en tree saam met sy vrou Bianca op as Lily and Bear. Hy vervaardig en neem musiek op in sy tuisateljee in Clarens en tree solo op in die Town Square-restaurante. Heinrich werk ook tans aan die produksie Gitare – Cordoba tot Kraaifontein saam met Mauritz Lotz, wat volgende jaar tydens die Oppiwater Kunstefees bekendgestel gaan word.
Dit was vir Helenè ‘n opwindende besluit om hulde te bring aan Nana Mouskouri. “Nana is vandag nog net so gewild omdat mense, van my ouderdom, ook na haar musiek geluister het. Ons laat haar musiek voortleef. Sy het 300 miljoen plate verkoop en kan vyf tale praat en sing. Dit maak dat sy in soveel lande superbekend is”, sê Helenè. “Sy is ‘n liefling onder haar aanhangers, sy’s nederig en spring nie op-en-af om haar musiek aan jou bekend te maak nie. Sy’t bekende “songs” NOG bekender gemaak. Sy’t treffers gemaak van elke lied wat sy opgeneem het, bv. Cucurrucucu, Only love, White rose of Athens ens. En NATUURLIK is haar dogter se naam ook Helene – word presies soos my naam uitgespreek. Dit wys jou – dalk is sy en my ma TOG famlie!!”
Bespreek nou vir Helene Bester sing Nana Mouskouri by die AfriForum Teater op Sondag, 20 Juliue 2025 om 15:00. Vir besprekings, besoek www.afriforumteater.co.za.

