“Trek my liedjies uitmekaar uit en skryf oor hulle,” het Koos du Plessis gesê, “maar los my uit… ek is ’n doodgewone ou.”  Koos Doep, soos hy in die volksmond bekend staan, sou in 2025 sy 80ste verjaarsdag gevier het.  En tog, ’n goeie 40 jaar ná sy dood as daar gepraat word van “Koos”, dan weet bykans enige persoon van wie daar gepraat word en daar is dadelik ’n klomp treffers wat by ’n mens opkom, waaronder “Sprokie vir ’n stadskind”, “Kinders van die wind”, “Gebed” en “As almal ver is”.  Dit is die omvang van Koos du Plessis se bekendheid en sy invloed op Afrikaans en Afrikaanse musiek. Waarom dit so is, is die onderwerp van menige debat, partykeer in die lesingsale van universiteite, maar meestal in die middernagure, met ’n “Kinders van die wind” of ’n “Skielik is jy vry” wat iewers in die agtergrond speel. Natuurlik met ’n goeie bottel rooiwyn, Koos Doep se gunstelingdrankie.

Jacobus Johannes (Koos) du Plessis is op 10 Mei 1945 in die Rustenburg-distrik gebore, maar het in Springs grootgeword.  Hy het aan die Hoër Seunskool Hugenote gematrikuleer, en toe hy in standerd 8 (vandag graad 10) sanglesse wou neem, is hy afgeraai om dit te doen.  Volgens sy musiekonderwyseres het hy ’n “gebrek aan vaardigheid” gehad.  Na matriek het hy ’n onderwysdiploma aan die destydse Normaalkollege Pretoria verwerf, waarna hy in 1967 tot die joernalistiek, ’n loopbaan wat hy vir die res van sy lewe gevolg het, toegetree het.  Hy het reeds in sy studentejare begin om liedjies te skryf, onder meer “Kinders van die wind”, wat hy in 1968 geskryf het. 

Stephan Bouwer het Du Plessis se musiek in sy televisieprogram Fyn net van die woord gebruik.  In daardie tyd het Katinka Heyns aan haar televisiereeks Phoenix en Kie, waarin Jana Cilliers die rol van ’n nagklubsangeres vertolk het, gewerk.  Jana is nie ’n sangeres nie, en daar is gesoek na iemand wie se sangstem vir haar karakter oorgeklank kon word.  Jana het haar vriendin, Laurika Rauch, voorgestel.  Dit was ’n besluit wat Koos en Laurika se musiek onder die aandag van die breë publiek gebring het: vier van Koos se komposisies is vir die reeks opgeneem, naamlik “Die somer is verby”, “Skielik is jy vry”, “Sprokie vir ’n stadskind” en die liedjie wat die Suid-Afrikaanse publiek gaande gehad het, “Kinders van die wind”.  Op 14 September 1979 het Laurika se opname van “Kinders van die wind” in die sewentiende plek tot Springbok Radio se Top 20 gevorder en binne vyf weke die derde plek gehaal. Dit het uiteindelik dertien weke lank op die treffersparade gebly.

Koos het homself ook daarna as sanger gevestig en sy eerste langspeelplaat, Skadu’s teen die muur, is in 1980 uitgereik.  In 1981 het sy tweede album, As almal ver is, verskyn.  In die eerste snit, “Molberge-herinneringe aan Springs”, met die mooi alliterasie, “Al vreet die vrees die vrede”, het hy van sy herinneringe aan sy kinderjare gesing.  Die laaste album wat in sy leeftyd uitgereik is, was Herbergier, wat in 1982 vrygestel is.  Op 15 Januarie 1984 was Koos op pad na Nick Taylor om aan sy vierde album te werk, toe sy motor die pad by ’n laagwaterbrug naby Knoppieslaagte byster geraak het.

Wynand was nog altyd ‘n groot aanhanger van Koos se musiek en met  sy diep, donker stem wat meesterlik Koos se liedjies vertolk en Chanie Jonker op klavier, is hierdie produksie ‘n moet sien alle Koos du Plessis-aanhangers.  Koos Doep is ’n roerende huldeblykproduksie waarin Wynand Strydom met rou eerlikheid die tydlose musiek van Koos du Plessis laat herleef. Met ’n stem wat die diepte en nostalgie van Koos se lirieke vasvang, bring Wynand ’n onopgesmukte vertoning wat die siel van hierdie legendariese sanger en liedjieskrywer eer. Elke liedjie dra die gewig van Koos se poëtiese hart, en Koos Doep word ’n intieme reis deur verlange, hoop en die skoonheid van eenvoud.

Koos Doep op Sondag, 27 Julie om 15:00 by die Theatre of Marcellus by Emperors Palace.  Vir besprekings, besoek gerus www.LTickets.co.za of skakel (011) 815-3000, en kies opsie 2. 

Wynand Strydom
Wynand Strydom

Lewer kommentaar

Leave a Reply