Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Terroris

Vannag op Rust Verstoren Niet,
staan die wind suid-wes oor die see
en ruis dit in woude van noem-noem,
eik, kiepersol en soetdoring,
waar, in die na-gloed van die rewolusie,
nes die nagskadu’s onder die lower,
die rustelose spoke van die martelare weer roer,
oor die dood van ‘n lank gekoesterde ideaal,
nou deur ‘n bloedlus onteer,
as die donker daal en ‘n vreeslike
nuwe bewussyn
van die verstoring van landelike rus
toeslaan, sodat landheer en arbeider,
na die daaglikse swoeg,
rusteloos slaap,
nooit wetend wie’s die volgende teiken,
van die herrese, brutale terroris.

Lokval

Koue, koue nag,
die vleiwater swart,
die Spaansrietstele dor
en wit saamgepak,
met hul wortels in die vlakte;
dis winter op die Plato,
‘n yl mis dryf op die water,
daar’s ryp op die kortgras op die wal
en neffens die vlei,
tussen lang stele rooigras,
skuil die twee,
met vuurwapen en nagvisier
en wag;
voor sonop nog kom die draers,
sal bloedkolle rooi blom op die koue wit,
die kort sarsies momenteel galmend,
en twee gestaltes wat ylings
met ‘n wildspad langs,
voor daeraad en ontdekking
van die doodsakker,
die wildernis in vlug.

Oumies en pa

Vanaand verlang ek so
na oumies en pa,
sien hulle in winterson
en oorgroot jersies,
en hoe hy knik
en na nuus van die Bokspan verneem,
en oumies, altyd ystervrou,
vasgenael voor die TV
van spoke en misteries –
ek mis julle vanaand
in hierdie gedig,
oumies in Lin se portret
is nou al wat ek het.

Wysheid

Om die wêreld te sien
en te moet raai wat dit is
en wat dit beteken:
die son en die maan en die sterre;
selfs ligafdrukke van standbeelde,
katedrale en verwoeste stede
en koelbloedige dragonders
en hul ontheemde,
verminkte slagoffers
en by al die wreedhede –
vreugde en liefde en skoonheid –
dié baaierd is tog te veel om te verstaan
(aanvanklik)
in jou jeug en prille
onvoorbereide rede,
is dit eers later,
wanneer jy deurwinter is,
en stadig,
dat jy besef:
die wysheid en verstaan kom so stuk-stuk,
of soms dalk nooit nie,
en bly ‘n dooie bevraagtekende verlede.

Siel

Gedagtegange wissel mekaar af
in die sponserige,
vetterige brein,
binne in die kranium,
waar jy angstig dwaal
in dié dop
en daar is jy wat jy is:
eksklusief geheim
en immer flitsend
van sinaps tot sinaps,
nimmer wetend,
of daar ‘n verlossende,
astrale sielereis aan die einde is.

Klein satelliet in die nag

Jy, satelliet-dingetjie, is immer op reis;
speldeprikgoggatjie met jou vuurvliegielyf,
enigmatiese agie, as fluisteraar van kosmiese seine,
gesels jy met die skottels van bakoor-teleskope,
oor oorloë, siklone en die ontheemding
van volk’re, maar ook oor die smelting van die pole
en die verwoesting van woude in die trope.

Afskeid

Die afskeid por
en woel in jou ingewande
met sy koue snoet,
dan wurg dit keellangs op,
tot in die brein en agter die oë in –
met die laaste groet –
om so deur die lense uit
die wye wêreld vir jou te wys,
wat meteens leeg is sonder jou,
dog ook geil van verdriet.

Verklaring op navraag

Vriend Louis, sê ek,
ek’s Mooihawe se vragskip
(noudat jy vra)
ek verskeep, wyn, botter,
brodens en vet klein bruin Kubaanse sigare,
kyk maar as ek vasmeer by die voordeur,
as afvlerk ou vroutjies
my trap af tegemoet hobbel,
hoe verlig en bly hulle is
oor die bekende skip
in die hawe,
met al die lekkernye in sy ruim,
maar nou moet ek eers vort, seil,
seil, seil!
dat die bloedige dag
nie die droom bederf
en my vraggie laat verrot nie.

Prooi

En nou kom hul digter aan,
skadu’s onder ‘n silwer maan,
sluipend tussen doringbos
en die wuiwende halms van buffelsgras,
waar hulle stop, as jy waaksaam is,
vorentoe sluip, as jy agteroor lê en rus
snags by jou vuur,
tot jy hul oë rooi sien glim,
en jy wis hulle wag vir die donkermaan,
wanneer jy in jou takkraal skuil,
dan word mens viervoetig dier,
dat jy hul hoor snuif en sug,
en jy besef hoe naak en weerloos jy is.

Reus

En verder het ek gesien:
‘n reus wat steierend orent kom,
naak, en met ‘n hand
die westergloor wegskerm
en sy’t met groot verontwaardiging geroep:
Gabriël! Gabriël!
haar stem weergalmend
in die gange van die heelal,
haar gesig verwronge,
die mond kwylend,
die kop effe skeef luisterend.
Stilte. En toe weer:
Gabriël! Gabriël!

En hy, die aartsengel,
het in die skitterende lig van ‘n sterrestelsel
geroer, en met sy staf gesoek
in die rigting van die gebral,
sy rus verstoor en tog met goddelike mandaat
geweet die reus veg teen die skemering,
die ewige lig wat haar versaak,
soos ‘n sterwende son,
en hy het met groot ongeduld,
maar gehoorsaam aan sy taak,
bulderend teruggeroep:
Kniel, skepsel, kniel!
Kniel voor God en die Heelal!

Nee, nee, nee, Gabriël!
het die reus geprotesteer, steeds steierend
en wankelend en dronk van rebelsheid,
trots en eiegeregtigheid.

En die aartsengel het diep gesug,
en homself soos lig, in een golwende sprong,
tot in die teenwoordigheid van die sterwende reus verplaas.
en sy het gedraai, miskien om te vlug,
maar met sy staf het hy haar oor die skouers geslaan,
dat sy op haar knieë val, die kop steeds gelig,
die gelaat verwring, die oë wit en uitpeulend.
Met die tweede hou het hy haar onthoof,
dat die liggaam stuiptrekkend en sidderend
die planeet laat skud het in haar val,
en die aartsengel het vorentoe geleun
en met een haal van sy staf,
met die vlym aan die punt, haar buik oopgekloof
en ‘n hand in die slymerig en stomende ingewande
ingedruk, rondgevoel en ‘n meisiekind
tussen die drek uitgepluk.

En ek het ‘n meisiekind met rossige hare
en hemelsblou oë gesien staan, naak
en verwonderd oor die majesteit van die Al,
die aartsengel se skitterende kleed en die gloed
en die ritmiese musiek van ontelbare sonne
en planete, maar tog weggedeins van die kadawer
waarin sy gevangene was, maar nou, bevry
en ‘n hemelse wese, het sy sonder omkyk gestyg
en op die sonwind, van haar aardse gebondenheid weg,
die ewigheid ingegly.

Opdrag

Is dit waar jy nou is, rus?
En lag jy nog en gee jou oor aan blaaskakery?
En kan jy nog spog,
en loslyf vertoon?
Verwittig my asseblief per droom,
kom met spier en glans,
wek my, dan wis ek
jou terugkeer is nie net skyn,
of hierdie onsinnige
onsekerheid van ‘n harlekyn.

Duif in die nanag

‘n Duif koer in die nanag. Hoekom sou hy?
Daar’s tog nie woorde nie. Dis stil.
Die maanlignag is bleek. Die sterre dof.
Die alfa-kater’s op die dak. Pis teen die nok.
Hy’t ook nie woorde nie. Net ingehoue woede.
Die duif kol swart op ‘n tak bo hom. Die boom blaarloos.
Tog koer hy. ‘n Lied in die halflig se dode-uur.

My Lief

Dis donkernag se wakker dié,
en iemand’s buite in die gang,
maar sleepvoets,
en ek wis weereens jy’s weg –
my lank reeds verlaat –
en in hierdie uur
is jy iewers kuslangs
op straat, miskien bevrees,
of miskien strandlangs
met die nagwind oor die see
kil teen jou blaaie,
soos ‘n swaard.
So, kan ek jou sien,
jou voel en ruik,
die geur van jou sweterige oksels in my neus –
tog is jy ‘n versweë gemis,
maar in my wese die verweefde
liefde van my vlees.

Oggenddiens

Sondag eerstelig trek sy haar terug,
met gebedstjalie en die Boek
en lees weer die wonderskepping in Genesis,
voel haar een met Eva
en Adam se rou liefdeskennis;
dan sing sy in ‘n hoë sopraan
die Psalms en Gesange van die Jehovaan
en weet God’s magtig en Liefde
en dat die Vuige en Shataan,
nog sal buig en krummel
in die heilige uur van besinning.

Die wildeganse

O die eerste kilte neffens Mei,
op so ‘n glorieryke maanligaand,
sterbelaai en poeierblou,
dan, teen die flonkerende tafereel,
wildeganse wat migreer,
geruisloos en in v-formasie,
die ou donslywe oranje
weerkaats’d in die stadslumière.

Na watter verre vreemde land
mik julle dan nou?
Dat julle met soveel ywer
en vreugdevol vertrek?

O, neem my saam
na die nuwe lente
se botsels waterlelies
en mere en poele blink
en luidrugtig met paddakore
en jul eie gesnater
wanneer jul neerstryk
op vars gesmelte water.
O, vaar julle wel
tot die seisoene weer draai
en julle triomfantlik terugkeer!

Die leuenaars

Ek sal bloot opstaan en uitstap,
as die leuenaars Armageddon afkondig,
en wag dat die dag pers word
en swaels uit die hemel duisel en plof;
die skares verward
rondmaal en mekaar ondervra;
en minnaars mekaar die nek omslaat
en kermend elkander moed inpraat.

Maar as die dag helder bly straal,
die son nie verdonker en die gemeentes
godprysend uit eens benoude
katedrale terugstroom na huis en haard,
sal ek bloot omdraai en aansit
vir my middagmaal van lensies en brood
en rustig inkeer en weet die waarheid
is geduldig en durend en in Deo Gloria.

Minnares

Net ‘n dowwe ligkol

in die middel van die ruim

se rokerige muwwe lug

en hy eenkant

stil en skadurig,

alweer suf,

verlangend

en peinsend,

oor hoe sy was

met sigaret en glas

tussen dansendes

en dronkes,

‘n vervliete minnares

se onhaalbare nagedagtenis.

Freddie

Immer ‘n bedelaar,

(hy’s gebore so),

eens kruiperig en neulerig,

nou oud, oorlams, en vrypostig

en noodgedwonge geneig tot brassery

en die groter ellende van die dag daarná –

nou het hy die man met die sens,

die grimmige ruiter,

belangstellend laat opkyk,

omdraai en spoorvat –

oor sy sirrose,

wanvoeding en emfiseem;

sy oorleefkans was darem eens jare,

nou’s dit dag per dag, net dae …

Omega

Wat verby is, is verby

en nie eens die more (ou goudbek

wat hy is) kan dit

terug bring nie

dus:

as die swaels in Wenen is, is

die duiwe rustend in die geslagte-oue

grys-van-torings iewers, besig

om biddend kop-onder-die-vlerk

toe te maak, uit eerbied

vir almal wat bleek en grys

die lewe tussen hul lippe deur

laat wegglip het.

Stormmaan

Hy glip oënskynlik in die onweer rond

en ry die stormwolke glansend blond,

tot hul ylings wegwarrel

en saambondel rug aan rug

in dreigende nimbostratus,

net om ounag met blits en donder

wrokkig uit die hemel terug te jaag

en hom agter ‘n wolkbank in te laat vervaag.

Die heininghardloper

(Die heininghardloper se modus operandi is op Heidelberg (Gauteng) op sekuriteitskamera afgeneem en dien as inspirasie vir die gedig.)

In die nag, in die dode-uur,

val sy skadu teen die muur.

hy’s nerveus en hoogs gespanne,

maar glip soos ‘n gimnas

gemaklik tot bo-op die heiningrug

en hardloop daaroor met seker tred

en fyn balans,

soos ‘n vreeslose kabel-loper,

tot hy kat-agtig lig

‘n binnehof betree

en seker van sy buit, los gereedskap gryp

en met soepel lyf

en steeds lig van voet,

oor die rûens

van die buurt se heinings langs

daarmee die nag in vlug.

Die jagter

En die môre
en die reier
in die sonlig
vlammend goud.


en die duiker
met sy bruin oë
in die lang gras
bang verskuil.


en die skote
in die more
en die bloedrooi
in die dou.


En ná dit alles,
ja, dit alles –
net die stilte
en die koue
liggaam van die prooi.


En die lang gras,
koue nat gras!
blou-oog engel
neem my hand


en hou my styf vas
o, so styf vas!
want ek’s die jagter
en die prooi.


Blou-oog engel
as hy my vind,
ja, finaal vind,
laat my dan nie
(in die nat gras,
koue lang gras!)
verstote en alleen.

Maar pyl saam
met die môre
en die reier
‘n goue straal
deur die grense
van die heelal
verby die vrees
en verby die bloed
tot waar ons weer
vredig en verenig
tussen soel sonne
sal ontmoet.

Die vertrek van die muse

Die gedig is voltrek:
die kamer is blou gerook
en ‘n gloeiende kandelaar
belig flouerig ‘n skadurige figuur,
wat effens dronkerig
haarself toewikkel in ‘n jas,
soetskeel rondkyk om haar heen
en dan stilweg by die deur uit verkas.

Johannesburg

Die more gryp sketterend en grys
aan die pante van die nag;
die dag volg bont
en verlig die stad so slonserig
en allitererend vuil en vraatsig
die verorberaar van ambisie en romantiek –
waar die mens weer helwaarts strompel,
swetsend en naak belieg,
om met ontnugtering en onvervuld,
oor die leegheid van sy skepping te bieg.

Morganbaai

draai, draai, vuurtoring in die nag

wanneer swaartekrag en springety
se witwater en magtige strome kolk

en die see se geweldige branders breek
op swart vulkaniese lawaglas,

gedenk vroom plakette op klip strandlangs
verdronkenes en die lewendes wat agterbly

Leviatan

nes die klong wat met ‘n gefuif

homself in die loom namiddag-uur

argeloos in die water begeef,

salig aangepor deur die logge leviatan,

wat bykans ademloos

en verskuil tussen riet,

grynsend en listig dié prooi,

se narrespel

in ‘n poel tussen sandbanke

en die kant

van die stroom bespied.

Kersgebed vir die insekte

Liewe God, behoed die mot,

muskiet, vlieg en kokkerot,

gee silwer stewels vir hul baie bene

en baie spasie vir die wat vlieg,

om die klein wraak en blinde gril

van my klein engel Metodis

darem die godsalige Kersfees te mis.

Nota aan verliefdes

Die vervreemding kom,

soos ‘n jakkals op ‘n maanlignag,

met hortende tjankies

en soms ‘n skel geblaf,

aangehits deur die vrot

van die karkas van die liefde, weggelê in ‘n vlak, halfklaar graf.

Die forel

twaalf kleurkryte vir die skets:

‘n spektrum van lig: van skig

tot deinserige impressie;

wanneer forelle in ‘n stroom, iewers

tussen kolle son en skadu vlug,

tot een skielik kragtig stol,

dog met reënbooglyf en skelm

geel jagtersoog in vloeiende lyn

en kleur, weerbarstig vasgevang,

uit jou papier weg probeer beur.

‘n Hoed vir jou!

Hierdie hoed is Oosters geweef

deur die vaardige, vaardige

vingers van ‘n blinde Sjinees –

die son is net ‘n gloed, sê hy.

                                Dis vir jou:

‘n hand om mee te tuur,

‘n sonsambreel

teen die glurende son;

ja, ‘n regte ou boggelrug kreatuur.

Slaap

die pasiënt het emfiseem en water op die long,

luister maar gerus na die geruis

van  elke borreltjie slym in die alveoli

‘n kringetjie pratendes omsirkel hom –

meestal kaalkop yuppies en welmenende pasifiste

vanuit die heelal, miskien van ander  planete

knik-knik, knik die omstanders klinies korrek:

die pasiënt is gereed om te vertrek;

die hartmonitor piep histeries – hy’s gedaan

dis  dan hoe dit is: morserige kwyl om die mondhoeke,

die brein skree vir asem en die ooglede hang halfmas,

maar soeitjies-soeitjies nou: waar’s die begeleiers,

die serafs, die  vooroorlede familie, selfs die paap?

hy’s alleen, maar geensins aangedaan en min gepla,

dommel hy gaandeweg in tot die ewige, dieper slaap.

Mens

Uit walms stof en gas,

 verdig en  klont

‘n  blou planeet,

met sel, alg en later biome

wemelend met malse lewe;

waarna, uit die klas mammalia,

‘n eens onbenullige primaat

evolusionêr vertak,

en boombewoner word

en met vêrgesigte deur die lower,

uiteindelik afklim en savanna

en ander verre lande verower;

tot hy, heel menslik,

met Woord en vuur

homself  terstond verklaar

as meester van die Natuur.

Venus

Venus, Venus!

Van Niekerkiaanse sprokkelster,

glimmende skoonheid

en sensuele verleidster,

kyk hoe vergesel jy die aarde

in sy baan,

maar, soms verneukerig,

nestel jy in,

onder die blink pens

van die maan.

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

  1. Goed geskryf Ferdi. Sien uit om meer van jou gedigte hier te lees.

  2. Ferdi, jou 2 nuwe gedigte vat mens op ‘n verbeeldingstog. Welgedaan!

Lewer kommentaar

Leave a Reply