Anton Goosen skryf: “Hokaai hokaai” handel oor liefde, lig en hoop omdat dit simbolies die essensie van menswees is, Die romantiese agtergrond is die Karoo: die Seweweekspoort in die Klein Swartberg en Toorkop naby Ladismith. Bo in die berg brand ‘n liggie van liefde om die vryersklong op sy wit perd te lok …
Die oorspronklike weergawe van die liedjie was opgeneem in 1989 tydens die Kommissie van Ondersoek se Winde van Verandering-album, maar was nie ingesluit in die finale album nie. My ingenieursvriend Peter Pearlson saam met wie ek al sedert 1986 opnames doen, het die aparte klankopnames van die lied opgespoor en het ons toe vanjaar besluit om dit ‘n nuwe baadjie te gee. Lise Swart, my sangmaat het haar stem kom byvoeg, Schalk Joubert het ‘n funky basghitaarlyn gepeel en Illimar Neitz het elektriese ghitaar en “lapsteel” by die nuwe vermenging bygevoeg. Daarby het Peter die ou stemme van die Kommissie van Ondersoek, (Lucas Maree, Helena Hettema en Karlien van Niekerk) behou in die nuwe vermenging.
Neil Sandilands het die video vervaardig.
Hokaai beteken “wag ‘n bietjie” of “stop” in Afrikaans en in Suid-Sotho “stop of staan stil” Dit was oorspronklik gebruik vir diere (osse).
Die Seweweekppoort se naam het verskeie oorsprongstories o a van brandewyn-smokkeaars en veediewe wat 7 weke geneem het om deur die poort te trek, of die sendeling Zerwick wie se naam die paaslike bevolking gesukkel het om uit te spreek tot straks die skaars Seweweeksvaring wat teen die hange van die klein-Swartberge groei.
So, as die lewe te erg versnel om jou, hokaai ‘n bietjie en kyk rondom jou- nskoonheid lê in eenvoud…
