Gedigte van Japie Moret

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

My beeld(jie) kort ‘n verf

Daar is ‘n beeldjie in my tuin –
Ek dink dit kort ‘n verf;
Sal die vryheidsvegters dit kom doen,
of gaan hulle dit net bederf?

Die beeldjie staan al lankal daar
en het nog niemand ooit gepla;
Die mannetjie is wit, dis waar,
Maar hy’t nie sy kleur gevra.

Dalk moet ek hom laat transformeer,
net soos die regering deesdae dinge doen;
Die druk hiervoor word al hoe meer –
verf hom dan swart of bruin of pienk – net nie groen.

“Apartheidsbeelde moet verdwyn!”
sê radikale, jong studente;
“En kolonialisme gee ons ‘n pyn –
dis geskiedenis sonder rente.”

Hulle glo dis polities heeltemal korrek
om geskiedenis-dele uit te wis;
Hulle wil die kring al wyer trek
om so verwronge feite op te dis.

Oor honderd jaar gaan mense vra:
“Waar is ons land se erfenis?
Waar is Cecil, Jan en Queen Victoria?”
Dis lank gelede reeds gestroop – ons ryk geskiedenis.

Die beelde-herrie duur steeds voort;
Die een in my tuin kyk anderkant;
Hy wonder en staar so effens noord;
Moet ons dáár gaan soek – ons hinterland?

Beurtkrag op ‘n reëndag

“Het dit al gereën, my vrou?”
Vra ek, nog deur die mis;
“Selfs vroeër as die môredou
is jy al op om brekfis op te dis.”

Die weerburo sê daar is ‘n kans
dat druppels ook by ons kan val;
Ek hoor niks op die sinkdak tans,
maar verneem dit kan selfs hael.

“Terwyl jy werskaf voor die stoof
– ek weet jy maak ontbyt –
rus ek net weer my sware hoof
en wag vir koffie op die regte tyd.

“Wat van roosterbrood met eiers en spek;
‘n Varkworsie daarby is glad nie sleg;
Wanneer jy aanstons tafel dek,
Skeer ek my gou, dan is ek reg.

“Maar hoe dan nou – die ligte is af!
Het jy dan nie die krag betaal?
Of is dit beurtkrag wat ons straf?”
(Eskom se manier om af te skaal.)

“Ag nou, my skat, wat gaan jy maak;
Jy kan nie voortgaan met ontbyt –
Die kragtoevoer is nou gestaak;
Gee my maar roosterbrood en konfyt.”

Nee, kyk, so kan ‘n dag tog nie begin;
Dan lê ‘n donker toekoms vir ons voor;
Miskien kan Eskom weer besin
oor hoe om die kragkrisis weg te toor.

Ek hoor die reën daarbuite sing;
dit maak die damme vol, ons tuine nat;
As Eskom ook sy kant kan bring,
is ons geseën met voldoende kilowatt.

Mense in hoë kringe

Daar’s mense in hoë kringe
Wat hulle besig hou met bose dinge;
Leuens en korrupsie is waarop hulle teer –
Hulle het nooit genoeg en soek steeds meer.

Daagliks lees ons in die koerant
Hoe ministers en presidente in die sop beland;
Die drang na mag en rykdom is net te groot;
Aan diens en toewyding het hulle ‘n broertjie dood.

‘n Lewenstyl van luukshede wil hulle hê
Dit maak nie saak wat kiesers sê;
Die armes moet maar tou gaan staan
Of iets te bedel om nie te vergaan.

Die rykes soos hierbo gemeld
Het geen bekommernis oor geld;
Van hulle woon in groot paleise
En rits van plek tot plek met 1ste klas reise.

Kry ons diens of kry ons geen?
Vir Jan Publiek raak dit algemeen
Om brand te stig en klip te gooi
Met plakkate wat lui: “Dis die laaste strooi!”

En as dit tyd vir verkiesing is
Word talle beloftes weer opgedis;
Die mense stem dan vir die regerende party –
En weer word mense aan die neus gelei.

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply