Jy

Jy, het jy vergeet dat jy eens myne was.
Ons het dinge saam gedoen en gelag.
“n Traan op jou wang en jy was somtyds bang,
maar ek was daar …
om alles op te neem en weg te dra.

Jy het my so baie laat lag en die wêreld
Se reënboë gehad in jou mag.
Ons het gedans onder die sterre en die maan was ons lig.

Toe word jy toegevou in die wêreld se dinge
En het beweeg in donker kringe.
Nou is jy weg…
En niks is vir my meer so eg.

Ek sien jou loop in die dag en jy sluip soos
‘n dief in die nag en jy het vergeet dat jy
eens myne was.

Vrae

Hulle sê grootmens wees sal jou lewe later heeltemal oorheers.
Hulle sê dan die dinge van kindwees verdwyn uit jou gees.
Jy voel koud, en die dinge van gister maak jou benoud.
Jy val maar staan op en gaan voort.

Jy soek jouself in die verlede maar jy vind jouself tog weer in die hede.
Jy voel verward en bang.
Sal die dinge van kindwees jou later weer vang?

Jy reik uit na die dinge daarbuite en jy word vasgevang
In ‘n donker wolk van vrae, vrees en ‘n ontsaglike verlange
na die mooi dinge van toe jy nog kind was.

Wat nou?

Jy worstel met ‘n onsekerheid, ‘n onsekerheid wat
soos suur aan jou binneste begin vreet.
Moet jy probeer vergeet, of moet jy bly bou
aan die herinneringe wat jou saans laat wonder
hoekom, waarom en vir wat?

Hoe lank sal jy die masker van geluk kan ophou.
Hoe lank voor die grootmens wees binne in jou gaan grawe
En gaan ontdek dat jy loop met ‘n leemte en ‘n vrees
Dat die ware jy onder die masker gaan uitkom.

Moet jy bly vashou of moet jy laat los,
Of sal die vrae net aanhou ophoop tot jou lewe in mekaar stort!

Bruin oog Nooi

Bruin oog nooi met ‘n hart so mooi
Met jou sprankel lag en altyd ‘n antwoord wat wag.
Jy bring vreugde aan oud en jonk.
Maar selfsoekend is jy tog ‘n glimlag die bly.
Soos ‘n warrel wind wat waai of die reën om die draai
is emosies soos ‘n wipplank en kan verwoesting saai.
Weet dat Engel kind is jy met die Here aan jou sy en weet Hy het ‘n plan
met jou en met my , wel met ons almal dan.

Bruin oog nooi met ‘n hart so groot
Jy het so baie om te bied.
Jou hart sing ‘n lied van liefde en leed en hoe getrou jy bly,
maar hoe bitter bang vir seerkry is jy.
Liefde en geluk het meer vorm as een en
tog is ons aan die ou wêreld geleen.
Sê hallo vir vandag en sê gister goeie nag
en môre wat kom sal maar net tot dan moet wag.

Bruin oog nooi met jou siel so diep
Weet dat jou lewe is gladnie verniet
Soos die liggies van ‘n aanloopbaan in die nag,
help wys jy vir baie die regte pad.
Vertrou in jouself want jy weet wat is reg en
die Here is daar om aan jou sy te veg.

Bruin oog nooi met jou wese so mooi
Vir baie is jy ‘n ongelooflike nooi
Spesiaal is jy en wil so baie help,
maar soms raak jy self ‘n bietjie ontsteld.
Onthou jy hoef nie alles te dra
my skouers is breed en Onse Vader is daar

Bruin oog nooi dierbaar is jy
Al pak ek af en hou nie op om te kla
wil ek jou ook bystaan en moet jy my begin pla.
Vasbyt vriendin en weet dat ek weet dat jy so
min so ek van gister kan vergeet.
Ons paaie het gekruis glo ek vir ‘n rede en dis
die hande werk van ons Liewe Here.

Gister

Gister klop aan die deur soos ‘n ongenooide gas.
Aanhoudend val die houe teen die deur en dit voel of jou binneste gaan skeur.

Maak jy oop en kyk gister in die oë en skree genoeg, gaan weg en los my uit of kruip jy weg agter die toe deur tot gister se geklop die deur afbreek en jou ontvoer en terug neem na die donker plek waarvan jy probeer vergeet.

Jy kyk benoud vas teen die berg van môre want jy weet nie wat daaragter steek. Jy voel vasgevang in vandag want gister jaag jou en môre al is dit om die draai weet jy nie of dit die dag is wat gister jou kom haal.

Verward en bang klou jy vas aan dit wat jou van jouself laat hou, hoe reg of hoe verkeerd maar jy klou.

Die stilte is erg, jy verkies eerder om ontvoer te word deur gister as om toegevou te word deur die stilte want die stilte laat toe dat gister nader kruip, bietjie vir bietjie al hoe nader.

Gedagtes hardloop angsbevange rond tussen gister en die stilte en die hart voel swaar.

Gister, dit steel jou vandag en los jou môre duister. Stilte, dit hou die deur vir gister oop wat môre blok om in te kom.

Die tyd stap aan

Koue winters tye, die wind wat waai. ‘n Druppel reën versteek ‘n traan.
Die ritsel van blare verbreek die stilte en die tyd stap aan.
‘n Hart wat klop soos die gedruis van donderweer keer op keer.
Was dit die huil van die wind om die hoeke of die geluid van hartseer?
En die tyd stap aan.
Bome kaal soos die hart leeg en êrens is ‘n groen blaartjie, die teken van ‘n nuwe begin.
Die son se strale omvou die koue en gee lewe aan oud en nuut en die tyd stap aan.
Soos ‘n kruispad van keuses en seisoene van veranderings is die dag van môre
duister.
Waar ‘n begin is, is ‘n einde en die tyd stap aan.

Indeks van digters

(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Lewer kommentaar

Leave a Reply