Dagdrome
Middernag drome, son’s opkoms dou
Is dit die silwer spore wat ek onthou?
Kristal patroontjies uitgelê soos stories geskryf in kant
Al my wense saamgebind, geweef met goue band
Lokkend en skitterend in die strale van die maan
Tot die son se eerste strale ligweg daaroor gaan
En die koue aan my voete nou
My eensklaps laat onthou
Drome kom net in droomland voor
En in daglig vee weg dou se silwer spoor.
Ballade op die dak
Konstant, aanhoudend, die ligte druppel note,
saamgebind deur ‘n vars konsonant van klank.
Hier en daar kraak, kreun, en dreun ‘n aksent,
spring soos reuse van kort, na langer tot lank.
Liggies, in harmonie saamgesmelt speel die ballade,
rustig op die gladde note van die dak.
So op ritme, so in tyd met die musiek,
sonder om te struikel of enkeld keer te hak.
Die tenoor soos die wind wat reën aankondig,
deurdring, die hitte van die argument.
Breek met juiging na die diepte van die siel
die wonderwerk van melodie as seën na bo te wend.
(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.