Kattewales
Waarvan droom jy, my lieflingkat,
as jy so lekker slaap:
Droom jy dalk van katmaters en die
voëltjie, akkedis of muis wat jy gaan vang
en is ek, jou mens, deel van jou droom?
En wat dink haar hoogheid as sy met
haar pragtige saffier-oë in myne staar:
Wonder die uwe ook, nes ek,
wie behoor nou eintlik aan wie?
En wat maak my katerkat snags
wanneer jou mens slaap:
Gaan kuier jy vir jou katvrinne en
is hul kos dalk lekkerder as jou
wetenskaplik geformuleerde eetprogram?
Maar klokslag,
ná die nag se kattewales is my
troetelkat op haar katelpos,
knus opgekrul neffens my.
Sê my, my lieflingkat:
‘Wat is die geheim van jou wondersoete slaap?’
(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.