Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Die bad

Sy laat haar sagkens oor die wit rand gly

in die soelwarm dieptes van die water in.

Eers was die lae een-een afgeskil

laat gaan,

die bad berei

met diep versugting na die reiniging

van alle patriargale smette.

Die kersvlam flakker

oor knobbels en klam holtes wat onelegant verdwyn onder die nuwe rimpelings,

om sag geweek, verskoon weer teruggevind te word

in sagte voue ontvang, omhels.

 

U het gelê

O Moeder van ons aarde

Moeder van vele

U wat was van die begin af,

Moeder van die waters;

Moeder van woude en die grasland

van alles wat asem en leef

en nie,

misterie, die maan, die bloed

drie keer

U wat ons almal ken

op ons heilige binnenaam

U wat gee, U wat neem;

 

U het gestaan, geweet

wyl U moordenaar plot

gelê, sodat dit volbring kon word;

sy naam is bekend: dis Marduk

hero, eie mag ontdek, die waan

dagbreek van Logos:

maar hy staan alleen,

net hy,

die god van selfgemaaktheid

in ‘n dooie land met dooie bome

broer teen suster

suster teen suster

roofdiere wat sluip, verskeur

al een.

 

U het gelê

in die aanslag op die Dood

misterie, die geheim, die gevaar!

veldslag vir veldslag

millennium na millennium;

Rede, die oorwinnaar

die Lewe gekersten

want sonder dood

geen lewe.

 

 En ons, Vrou

draers van U beeld

verneder, vertrap, onteer

ontmens

‘n gebruiksartikel

eksploiteer die vrou, die aarde;

 

manlikheid, U pilaar, integriteit, verswak:

dooie moeder, man en vrou

die een die ander bewonder, beny

besit, beheer en stryd:

daar’s geen liefde

in die braakland.

 

U het gelê

want dit moes kom, dit was Tyd

maar soos saad wat rus en wag

want die groei kom weer

klein fyn sprietjies

groen.

 

Ek het gaan lê om te sterf;

ek het gedink

dat die uil my naam roep,

maar vanuit die chaos van die storm

hoor ek toe

my binnenaam.

Hierdie lewe

Kersvlam flakker
in die spieël van my gemoed as ’n deur oopkraak
en ’n skaar luid spraak:

     hul storm nou aan
     met wilde oog
     en wind wat stroom deur mane; [i] hart klop verwoed
     klip spat teen hoef
     dreun donderend oor die dale; ek hoor my naam
     hul voer my saam
     die lewe roep, my pad, my sterreblom sing saam.

Die kersvlam flak
terwyl ek na asem snak
bewend die angs bestyg
en koerskry oor die vlak.

[i] Geïnspireer deur Hierdie Lewe en Verkenning van Karel Schoeman

Gras

Ek en my hond loop in die pad loop in die pad.

Versengende sonneblomson insekte gons om my kop, en voëls
klop – kloppie fwieet, klop-kloppie fwieet. Die gras glim in die laatmiddagson
fyn groen gras, welige rooigras
lang soepel stingels rimpel in die roering.

     Vleg vir my ‘n mandjie om my vrugte in te pak; vleg vir my ‘n matjie voor my bed te
     pas;
     dek my dak – o die reuk!
     vir my en my mandjie en my matjie

Die gras staan tot my middel waar ek dit voel en weet
wanneer ek wanhopig padlangs sweet
hul skel – skepties skater my weerklinkend volg: ek en my hond sal daaroor lag
want God sorg ook vir die gras.

Nagloop

‘n Skrefie maan beloer my deur die wolke en weerlig flets na die noorde.
Die nag blink donker in die hoër donker bome waartussen straatligte geheimsinnig glim. Swaar geure sweef sag omheen,
o soet is die siel van die nag!
Geleidelik dring die nagklanke nader en sing dwing uit hul skuilplek die donker se lewe. Nagmense dans, elke skadu kry lewe
neem óp die verhoog van die straat
deur die rustende ego verlaat.
My mond gaap oop, my oë staar
my asem stol – watter vreemde spel! Teen die lamppaal leun ‘n vrou besitlik
nog ander word gebore uit die donker se hoeke en ontmoet doodluiters absurd midde die straat
‘n kompleks of ‘n drama, toevallig, wie weet? Dis duidelik dat ander reëls hier meet.
Wyl ek snags niksvermoedend, beskermd omdraai in my bed
gebeur vreemde dinge in die donkerte die natuur se wet.
Dan speel ek weer my wakker rol en dink verwaand : dis ek!

‘n Duif in die Puntboom

Ek kan hom van ver sien sit die duif
vanwaar hy nou-nou weer
sal inklim teen die stroom sirkel tot hoër spits en sidder
tot uiterste gestrek van punt tot punt stol, een asemlose oomblik, hang
dan kantel met oorgawe in die spiraal navigeer op die wind met volmaakte balans sweefgly om en om
tot sy spel opbreek
hy horn met swiepend gebaar terugwend na die puntboom vanwaar hy rondborstig wêreldwyd sy volheid in sang verhaal.

Brief met Borrels

Ek skryf aan jou
‘n brief met borrels van mosse en voëls van bome, van gras;
van sonne en mane en jaargetye; van volheid, van leegheid
van lewe en dood.

Ek stuur aan jou ‘n waterbrief
met borrels wat asem van onder die see; borrels van donker borrels van lig
deur die laaste sif gesif

Sy stuur aan my
‘n brief met borrels
wat kielie teen my neus verby
borrels vol lewe
borrels vol liefde
wat nat-nat teen my wang af gly.

Ritme

Die jaarringe kring al wyer uit in duntye en vol,
in dood en vernuwing
gly dit ritmies deur die donker Poel. Die vuur, die water
die stilte, die dans
die polsslag, die hartstog in lig, in skadu
du dit my voort;
die trom wat my voete voer duiselend, dansend
deur die wonders van die jare.

Gemerk, ge-eien is my siel
sein ek my wese in daaglikse deinings tot op my sterfbed
die volle blom van my lewe,
waar ek sal vra, waar U sal weeg:
is ek U waardig,
o Trom van die Poel?

[gedigte uit: Die zebravis, ‘n poëtiese binnereis (2016)]

Klik op die skakel Die zebravis, ‘n poëtiese binnereis om te koop.

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Lewer kommentaar

Leave a Reply