Vir 20 jaar lank was Pieter ’n rekenmeester in Bellville. Nie soos al die ander rekenmeesters in sy straat, sy woonbuurt … in Bellville nie. Pieter was anders. Pieter het angstige sorge verbloem … selfs by ’n braai. Die sin van sy lewe het hom begin pla.

Een oggend toe sy vroutjie Helie wakker word is Pieter skoonveld. Sy sou later uitvind hy het een van sy polisse by Sanlam laat uitbetaal, ’n kaartjie Indië toe gekoop en die res van die geld in hulle gesamentlike spaarrekening inbetaal. Dit was die laaste keer wat hy met geld gewerk het.

’n Jaar later het niemand nog enige taal of tyding van Pieter gehad nie. Tant Mina van Malmesbury, sy ma, kon dit nie meer hou nie. Sy het vir haar ’n kaartjie Indië toe gekoop. Daar gekom het sy die eerste persoon wat sy teëkom (en wat haar gebreide Engels kon verstaan) gevra waar die wysste man in die land is.

So pak sy toe die reis aan na die Jaggannath Tempel in die stad Puri. ’n Verskriklike reis, gegewe dat Tant Mina verkies dat mense buite haar persoonlike spasie bly.

By die tempel was daar nog slegte nuus vir Tant Mina. Sy sal moet drie weke wag om tot voor in die ry te kom vir ’n gesprek met die ghoeroe. Boonop is sy streng meegedeel dat sy nie meer as 10 woorde met die ghoeroe mag praat nie. Ten minste sou sy tyd hê om haar vraag goed te formuleer.

Toe Tant Mina se dag uiteindelik aanbreek en sy voor die ghoeroe gebring word, was sy reg met:

“Kry jou goed Pietie! Ons gaan nou huis toe!”

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply